
'N MAN (21) van Newfields is tydens 'n huisroof ontvoer.
Die voorval het Vrydagaand om 20:00 in Lodewykstraat in Newfields in Hanover Park gebeur.
Kaptein FC van Wyk, 'n polisiewoordvoerder, het bevestig die Philippi-polisie ondersoek 'n huisroof en 'n ontvoeringsaak ná 'n voorval.
Van Wyk sê volgens berigte het vier onbekende mans die huis binnegekom en die inwoners gedreig.
"Die verdagtes het hulle op die kombuisvloer laat lê, die huis deursoek, selfone en 'n onbekende bedrag kontant gevat.
"Hulle het van die toneel gevlug met die gesin se voertuig, 'n wit Hyundai, en die 21-jarige man - in 'n onbekende rigting," sê Van Wyk.
Hy sê dat die verdagtes nog in hegtenis geneem moet word.
Intussen het Radio786 op hul Facebook-blad berig dat die man wat ontvoer is, die 21-jarige Huzaifa Sange is.
Enigiemand met enige inligting oor hierdie voorval word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte speurder lt.kol Gavin Sias by 082 4697 243 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.