
LUTZVILLE. – ’n Onnie het haar lewe tragies in ’n motorongeluk verloor.
Edith January (50) was oorspronklik van Kaapstad, maar het jare lank in Lutzville onderwys gegee. Sy is Saterdag in ’n motorongeluk oorlede.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek, maar die vermoede is dat sy beheer oor haar kar verloor het.
Dit het tromp-op teen ’n aankomende voertuig gebots.
January is op die toneel dood verklaar.
Gewerk
January het haar opleiding aan die Bellville-onderwyskollege voltooi.
Sy kry toe ’n pos in Lutzville en het tot en met haar dood daar gewerk.
Lede van die gemeenskap is baie hartseer oor haar dood en het met die familie gesimpatiseer.
Haar twee kinders is baie emosioneel oor die feit hulle hul mammie ’n dag voor Moedersdag aan die dood afgestaan het.
January was tot en met haar dood ’n aktiewe lid van die (VCSV) Verenigende Christen-studente-vereniging en het ook as die Wes-Kaapse voorsitter gedien.
Passie
January het gesorg dat die kusdorpies se jeug aan gospel-kompetisies oor die land heen deelneem.
Sy het ’n passie vir jongmense gehad en het altyd uit haar pad gegaan om die kinders met haar eie vervoer tot by sang- oefensessies te vervoer.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.