
“GATVOL” is nie eens die woord nie!
Terwyl die res van die land moan oor stage 6 load-shedding wat nou voor vat, lyk dit asof constant load-shedding die voorland van Delft se inwoners is.
Inwoners van Suburban in Delft is ver verby gatvol wanneer dit by hulle kragprobleme kom. Hulle sit nou al langer as twee weke sonder krag nadat die kragboks naby hulle uitgebrand is.
Kwaad
Dit het na bewering gebeur nadat die gemeenskap onwettige kragverbindings self geknip het. Lee-Ann Swartz vertel hoe frustrerend dit is om sonder krag te lewe.
“Wat my so kwaad maak, is wanneer die kinders huiswerk kry, kan jy nie eens reg sit in die aand om hulle te help nie, want dis te donker. In die oggend wanneer ek gaan werk, is die krag af en saans as ek by die huis kom, is dit af.
“Die pad is donker, die huis is donker.”
Swartz sê haar grootste concern is om haar kinders alleen in die donkerte by die huis te los. “Dit is baie geld uit my sak uit ook. Ek moet data en airtime koop om heeltyd vir Eskom te bel en boodskappe te stuur.”
Volgens Swartz sê Eskom hulle gaan mense stuur, maar die mense kom eenvoudig net nooit uit nie.
Swartz sê sy kan nie kos koop nie en moet heeltyd takeaways koop, wat baie duurder uitwerk.
Margaret Tsholoba kan haar frustrasie nie meer hou nie. Tsholoba vertel: “Vyfuur is dit al baie donker, dan moet ons maar gaan slaap.
“Ek het nie eens geld vir ’n kers nie. Ek moet elke dag skarrel vir ’n kers. My nuwe non-stick potte is al pikswart gebrand. Hier is nie eens meer hout nie. Ons moet heeltyd hout koop vir vuur om kos te maak.”
Baie inwoners gebruik gaspotte en kla dis ’n duur affêre Inwoners kla ook dat hulle elektriese toestelle oppak omdat krag onverwags af- en aangaan en dis nie eens load-shedding nie.
“Dis onmenslik!” laat Johan Klaasen, nog ’n inwoner, hoor.
Hy meen die spanning loop hoog en is bang hulle gaan oor tot aksie as Eskom nie hulle probleme fix nie.
Klaasen sê die omstandighede waarin hulle nou moet woon — om kos op die vuur te maak en wasgoed met die hand te was — is deel van ’n era wat lankal verby is.
’n Eskom-woordvoerder, Kyle Cookson, sê hulle ervaar veral in die Delft-omgewing ’n toename in toerusting wat onklaar raak weens onwettige elektrisiteitverbindings en vandalism.
Cookson sê dis veral die Covid City-plakkerskamp waar onwettige kragverbindings hoogty vier.
Hy sê hulle skakel gereeld met die plaaslike gemeenskap en leiers om hulle die probleem te help fix deur sulke onwettige verbindings aan te meld.