
SATERDAGAAND by die New Somerset Hospital in Groenpunt in Kaapstad is drie mense doodgeskiet.
Die drie het gesterf nadat ’n mede-pasiënt, die ex-cop Jean-Paul Malgas, ’n polisiekonstabel se dienspistool gegryp en drie mense doodgeskiet het.
In daardie vreeslike nag was daar helde ook.
Vandag is International Nurses Day en een van die helde is ’n verpleegster.
Senior suster Diane Seale en haar span het gehelp om Malgas te kalmeer.
Anders kon meer mense gesterf het.
Malgas het reeds in die hof verskyn op drie klagte van moord.
Met die optrede van die verpleegpersoneel het dit net weer gewys dat die mense altyd die tweede myl sal loop en vir ander mense omgee.
Seale was Saterdagaand aan diens toe sy hoor iets gebeur op die tweede vloer.
“Toe ek op die vloer kom, het ek ’n liggaam op die vloer sien lê.
“Uit die hoek van my oog het ek die pasiënt gesien met ’n vuurwapen in sy hand.
“Ek het reguit na hom gestap, oogkontak gemaak en hom gehug en na ’n kamertjie geneem.
“Hy het gesê ek moet die deur toemaak.”
Sy sê die personeel kon toe na die polisieman kyk wat geskiet is.
“Ek het gevoel ek kon hom kalm hou. Nog twee pasiënte was reeds geskiet, maar daar was nog twee en ek wou hulle red.”
Sy vertel haar fokus was heeltyd op Malgas en sy wou nie haar oë van hom afhaal nie.
“Ek het gesê ons moet praat. Ek het hom soos ’n mens behandel. Ek het nie gefokus op wat hy gedoen het of nog kan doen nie.”
Sy sê sy het hom gevra wat gebeur het en het aan hom geraak.
“Hy het toegelaat dat ek aan hom vat en dit het my hoop gegee en ek het geweet hy vertrou my.”
Sy vertel hy het vir haar gesê sy is dapper. “Jy is die enigste een wat hier ingekom het,” het hy gesê.
“Ek wou net sorg dat hy kalm bly,” sê Seale.
Sy vertel sy het hom ’n paar keer gevra om die vuurwapen neer te sit, wat hy toe later gedoen het.
Hoofdoel
Deur alles was sy onbewus daarvan dat die polisie se taktiese span buite gereed was.
“My hoofdoel was om hom van die personeel en pasiënte weg te kry.
“Ek het na die kamer se deur gegaan en toe die taktiese span gesien.
“Ek glo ek het beheer oor die situasie gehad. Ek kon selfs ’n grap maak.
“Ek het hom toegelaat om met my te praat. Deur alles het ek sy gesig opgelig en gesê hy sien die uniform. Ek is hier om lewens te red.”
Seale vertel hy het ingestem dat sy hom inspuit sodat hy kan kalmeer.
“Ek het die taktiese span toe ingeroep. Toe ek uitstap, was almal daar. My span was veilig. Dit het my weer die aansporing gegee om deur te druk.”
Ondanks alles waardeur sy is, het Seale nog gesorg dat haar span en pasiënte nog verdere counselling gekry het.
Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het gesê die storie van suster Seale is een van leierskap, dapperheid, omgee, spanwerk en ware menslikheid.