
CALEDON. — ’n Onwettige immigrant van Lesotho het Maandag op ’n klag dat hy met onwettige ammunisie smokkel, in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die Caledonse blitspatrollie het verlede Maandag inligting ontvang van die groot hoeveelheid ammunisie wat by ’n huis in Riemvasmaak geberg word. Die cops het die inligting onmiddellik opgevolg en omstreeks 19:45 toegeslaan.
Son verneem die verdagte, Steven Mosala (33), wou die ammunisie wegsteek en op die vlug slaan, maar is in die huis in hegtenis geneem en geboei. Daar is toe op meer as 300 patrone beslag gelê.
Mosala staar klagtes van die onwettige besit van ammunisie en dat hy onwettig in die land is, in die gesig.
Hy het tydens sy hofverskyning aangedui dat hy om regshulp aansoek gaan doen.