Cops flop met Tristan-saak

akkreditasie

BYNA vyf maande nadat hul seun execution style doodgeskiet is, weet hulle steeds nie wat werklikwaar met hom gebeur het nie.

Hilton en Lorentia Phillips, die ouers van Tristan Phillips, het hulle nou tot die media gewend om hulle te help in hul soeke na antwoorde.

Tristan, die eienaar van ’n vervoermaatskappy, is op 28 Januarie vanjaar doodgeskiet terwyl hy mense op die hoek van Swartklip -en Highlands-rylaan in Mitchells Plain vervoer het.

Volgens die ouerpaar van Belhar het die ondersoekbeampte in die saak hulle aanbeveel om die media te nader, omdat hulle geen leidrade het wat tot ’n arrestasie kan lei nie.

Al wat die polisie gekry het, was ’n skoen wat hulle weggestuur het na forensies om die vingerafdrukke te ontleed, sê hulle.

Selfs Tristan se selfoon lewer geen leidrade op nie en kon hulle niks daarop kry nie, wat vir die ouerpaar baie vreemd is.

Hulle sê nie eens die laaste boodskappe wat hulle aan hom gestuur het, kon die polisie opspoor nie.

Hilton sê hy voel sy seun se saak het van die begin af nie die aandag geniet wat dit moes nie.

Volgens hom het dit alles begin toe hulle hul seun by die Belhar-polisiestasie as vermis aangemeld is, maar dat daar toe nie eers ’n saak oopgemaak is nie.

hilton phillips
Hilton Phillips sê daar is na maande steeds geen vordering in die moord op sy seun nie.

Hilton vertel: “Nadat ons nie vir Tristan in die hande kon kry nie is ons na die Belhar-polisiestasie, waar ons hom as vermis aangemeld het.

“Ons is daar weg en sowat ’n halfuur later toe kom hier ’n polisieman aan om ons te vra watter soort seun ons kind is.

“Hy wou weet of daar nie dalk iemand is wat hom wou seermaak nie.

“Hy’t gesê dat ons weer polisiestasie toe moet kom om ’n missing report te file. Daar was toe nooit een oopgemaak nie.

Tip-off

“Toe ons daar kom het dieselfde polisiebeampte ons weer gehelp en gesê dat hulle nie missing reports het nie en hulle dit eers by die Delft-polisiestasie moet kry.”

Lorentia sê vandaar af is hulle van bakboord na stuurboord, opsoek na haar seun.

Sy sê toe hulle die volgende oggend na die Mitchells Plain-polisiestasie toe is nadat hulle ’n tip-off ontvang het, is daar aan hulle gesê dat die plek waar haar seun vermoor is, nie in hul jurisdiction val nie.

Lorentia vertel sy het by die betrokke polisieman gepleit om asseblief die Lentegeur-polisie te bel, maar hy het gesê dat dit nie sy werk is nie.

Volgens haar het hulle toe al ’n tip-off gekry van ’n voorval wat gebeur het waarin haar seun dalk doodgeskiet is.

Lorentia sê niemand by die polisiestasie wou vir hulle antwoorde gee nie.

“Iemand wat vir forensies werk, het ons laat weet dat dit wel Tristan is wat doodgeskiet is en dat hy in die Soutrivier-lykshuis lê.

“By die polisiestasie is aan ons gesê ons moet wag tot die Maandag vir die speurders.

“Ek het gesê ons kan nie so lank wag nie en ons is tot by die lykshuis.

“Daar was hulle baie behulpsaam, maar wou hulle nie hê ons hom moes sien nie, omdat hulle nie mag nie.

“Die ou daar het ons toe gehelp en gesê hy kan ons nie die liggaam wys nie, maar wel ’n foto. Hy het gevra dat my vrou eenkant staan en wag,” vertel Hilton.

“Toe die skerm opkom en ek sien dis my seun het ek onmiddellik inmekaar gesak. Ek kon dit nie glo nie.

“My vrou het dadelik na my gehaas.”

lorentia phillips
Lorentia Phillips sê om met die polisie te deal was sedert haar seun se aanvanklike verdwyning ’n stryd.

Woedend

Die ouerpaar sê hoewel hulle berusting gevind het, was hulle eers baie woedend.

Lorentia sê sy wou weet hoekom haar seun op so ’n wrede wyse moes sterf.

Die hartseer mammie sê al wat sy wil hê, is dat geregtigheid moet geskied.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, sê Tristan se saak word steeds ondersoek.

Volgens Twigg, is geen arrestasies nog gemaak nie.

Hy vra dat enigiemand met inligting na vore sal kom en Crime Stop by 08600 10111 sal kontak.

Tristan se ouers doen ook ’n beroep op enigeen met info om die ondersoekbeampte by 082 567 4835 te kontak.

Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees