
DIE brand wat Donderdagmiddag by Elgin Fruit Juices in Pinestraat, Grabouw in die Wes-Kaap uitgebreek het, het ook na Gaffley's Transport en die informele nedersetting langs Waterwerke versprei.
Die Theewaterskloof-munisipaliteit sê in 'n verklaring vyf brandweerwaens was eers op die toneel, maar later het tien brandweerwaens gehelp om die brande te blus.
Hulp is ook van Overstrand en die Stad Kaapstad se brandweer aangebied.
Die situasie was teen gisteraand onder beheer. Die oorsaak van die brand is onbekend en niemand is beseer nie.
Wilfred Solomons-Johannes, 'n woordvoerder van die Theewaterskloof-munisipaliteit, sê sterk wind het veroorsaak dat die vlamme na Gaffleys Transport Services en die informele nedersetting uitgekring het.
"Sowat 50 strukture is verwoes en 200 mense is dakloos gelaat. Beamptes is ook ontplooi om die skade aan huise langs Ou Kaapse Weg vas te stel."