
DIE gemeenskap van Bishop Lavis het Woensdagaand bymekaar gekom om die lewens van twee boeties te vier wat saam in ’n brand gesterf het.
Xaché (6) en Jean-Ray Weideman (4) was verlede Donderdagaand alleen in hul huis in Arthur Abrahamsstraat, toe dit na bewering met 'n petrolbom gegooi is.
Klein Xaché sou ook Woensdag sy sewende verjaardag gevier het, en dis waarom dit vir hul mammie, Chenay Engelbrecht, ’n baie moeilike dag was.
Verskeie gemeenskapsleiers, soos Graham Lindhorst, voorsitter van die Bishop Lavis Gemeenskapspolisiëringsforum, Michael Hoffmeester, voorsitter van die Bishop Lavis Backyarders Forum en raadslid Charles Esau, het hul misnoeë oor die voorval uitgespreek.
Lindhorst het aan Son gesê hulle het genoeg gehad van misdaad en dat inwoners moet saamstaan om hierdie euwel hok te slaan.
Hy sê: “Ek wil hê indien iemand gesien het wie vir die brand verantwoordelik is, na vore moet kom.
“Dis tyd dat mense inligting aan die polisie moet gee."