Bloedspoor in Hopefield

akkreditasie
toneel: Die voorval waarin Malgas na bewering ’n polisie­beampte met ’n mes gesteek het, het hier in Skoolstraat in Hopefield net voor die klein hekkie voor die gebou gebeur. Foto: JONATHAN LESTRADE
toneel: Die voorval waarin Malgas na bewering ’n polisie­beampte met ’n mes gesteek het, het hier in Skoolstraat in Hopefield net voor die klein hekkie voor die gebou gebeur. Foto: JONATHAN LESTRADE

GEEN kommentaar, geen kommentaar ... Geen kommentaar.

Landwyd is Weskussers bekend vir hulle gasvryheid en dat hulle land en sand gesels.

Maar wanneer dit by die vermeende hospitaal-skieter Jean-Paul Malgas kom, kap mense zip soos wat g’n broek of jacket dit kan hou nie.

Malgas was dié week op almal se lippe ná die slagting Saterdagaand in die New Somerset-Hospitaal in Groenpunt. Drie mense het hier hulle lewe verloor.

Vinger word gewys na Malgas, wat na bewering eers die cop konst. Donay Phillips (32) oorrompel, sy dienspistool afgevat en hom toe doodgeskiet het.

Daarna het hy na bewering twee pasiënte, Geret Carolus (48) van Atlantis en ’n 43-jarige pasiënt van Piketberg, kopskote toegedien.

Twee dae voor die New Somerset-tragedie, op 5 Mei, het die voormalige cop se bloedspoor in die klein dorpie Hopefield begin. Daar het Malgas na bewering eers ’n vroulike polisiebeampte in die bors gesteek.

Hy is toe deur ’n kollega van dié cop in die been geskiet en toe na die Vredenburg-Hospitaal geneem. Hy is later na die New Somerset-Hospitaal oorgeplaas.

Son het dié Weskus-dorpie gister ’n besoek in ’n poging om vas te stel presies wat twee dae voor die hospitaalvoorval gebeur het.

Vergadering

’n Groep inwoners het Son na Skoolstraat verwys waar die mesaanval plaasgevind het.

’n Inwoner, wat naby die toneel van die aanval woon, het aan Son vertel dit het buite die klein saal gebeur waar die plaaslike polisie na bewering ’n vergadering gehou het.

Die inwoner kon nie presies sê waarom Malgas die polisie genader het nie, maar het gehoor dit het gegaan oor een van sy kinders wat hy gesoek het.

“Dit het net daar voor die hek gebeur. Ek het gehoor hy het sy kind gesoek, maar verder weet ek nie rêrig hoe dit gekom het dat hy die polisiebeampte aangeval het nie,” sê die inwoner.

Son het ook ’n draai by Malgas se voormalige meisie se ma se huis gemaak. Dié het aan Son vertel haar dogter en Malgas is lankal nie meer saam nie.

“Die dag van die voorval was hy hier, maar om sy kinders te kom sien. Maar ek kan nie verder sê wat gebeur het nie.

“Wanneer hy hier gekom het, was dit vir sy kinders.

“Dit is teleurstellend om te hoor wat gebeur het. Ons ken hom nie só nie.

“Dit is hartseer dat die kinders nou hieroor geterg word. Dit is onregverdig,” sê die antie.

cop-shop: Malgas was aanvanklik by die Hopefield-polisiestasie aangehou voor hy vir mediese behandeling hospitaal toe is.Foto: jonathan lestrade

Die antie wou nie verder op Malgas kommentaar lewer nie.

Son het later deur ’n betroubare informant uitgevind die polisiebeampte, wat Malgas gewond het, woon ook in Hopefield. Dís nadat hy haar kollega na bewering gesteek het.

Toe ons by haar huis kom, het haar pa dadelik gesê hulle is nie bereid om oor die gebeure te praat nie.

“Geen kommentaar nie. Ons het geen kommentaar nie,” het die pa gesê.

Hy het wel aan Son gesê sy dogter doen goed en ontvang tans berading.

Son het ook Donderdag tot in Vredenburg gery om met Malgas se ma te gesels.

Maar by dié antie het ons ’n kille, kille ontvangs gekry.

Kort nadat die verslag­gewer haar voorgestel het, het Jeanne Malgas net gesê: “Ha-a. Ha-a.”

Toe smyt sy haar voordeur toe. Bottoe.

Malgas staan tereg op drie klagte van moord, besit van ’n vuurwapen en ammunisie sonder lisensie en ook roof.

tragies: Konstabel Donay Phillips (32).FOTO’S VERSKAF

Gedenkdiens

Hy het Dinsdag vlugtig in die Kaapstadse landdroshof verskyn. Dit het in die hof uitgekom Malgas toon tekens van depressie en selfmoordneigings.

Malgas word tans in die Pollsmoor-gevangenis aangehou. Die saak is tot 30 Junie vir nader ondersoek uitgestel.

’n Kranslegging word vandag by die Seepunt-polisiestasie vir Phillips gehou.

’n Gedenkdiens sal daarna by die Life Church in Seepunt plaasvind.

Sê jou sê
Is jy al ingeënt
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Ja, ek het al die jab gekry
43% - 1494 stemme
Nee, ek het nog nie die jab gekry nie
20% - 694 stemme
Ek laat my nie steek nie
36% - 1250 stemme
Stem
Jongste Son

24 Mei 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees