
TWEE akteurs van die Netflix-reeks The Chosen One is verlede week in 'n ongeluk in Mexiko dood.
Ses ander mense wat deel is van die rolverdeling en personeel is ook beseer toe 'n bussie, waarin hulle gery het, naby Mulege aan die Baja California Sur-skiereiland omgeslaan het.
Netflix en die produksiemaatskappy wat die reeks vervaardig, Redrum, het die ongeluk in ’n verklaring bevestig.
"Ons is diep hartseer oor die tragiese ongeluk wat die lewens van Ray Garduño en Juan Francisco González geneem het," het ’n Netflix-woordvoerder Maandag in ’n verklaring gesê.
"Ons gedagtes is by hul geliefdes en by diegene wat tydens hierdie tragiese ongeluk beseer is."
Redrum het in ’n verklaring gesê: “Ons almal by die produksie van The Chosen One is geskok oor die tragiese ongeluk wat verlede Donderdag plaasgevind het, terwyl ons van Santa Rosalía in Baja California op pad na die plaaslike lughawe was.
"Ons is diep hartseer oor die heengaan van ons kollegas Ray Garduño en Juan Francisco González en ondersteun almal wat deur hierdie onuitspreeklike tragedie geraak is ten nouste."