
DIE Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, sê die “nonsens” van maskers binnenshuis dra, moes al lankal geskrap gewees het.
Mbombo het só gereageer op die nuus dat die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, aanbevelings aan die kabinet gaan voorlê dat die verpligte dra van maskers end kry.
Phaahla sal ook na verwagting aanbevelings maak dat die huidige beperkings op byeenkomste ook geskrap moet word.
Mbombo sê aan Son haar departement het klaar gereageer op Phaahla se navrae van provinsiale ministers om kommentaar te lewer oor dié aangeleentheid.
Sy sê: “Ons as die Wes-Kaap het klaar gereageer deur te sê só ’n besluit is long overdue.
Beheer
“Hulle moet net daai nonsens skrap.”
Volgens haar is nuwe Covid-19-gevalle nou wêreldwyd onder beheer en die infeksiekoers is nie meer ’n kwessie nie.
Mbombo verduidelik: “Die kwessie nou is die inwoners se lewensbestaan.
“Byvoorbeeld, wat baat dit jy bring sport na ’n stadion met ’n volle kapasiteit van 30 000, maar jy kan net 10 000 mense toelaat?
“Hoe meer mense jy by die stadion kan toelaat, hoe meer mense kan jy werk gee sodat hulle ’n lewensbestaan vir hulself en hul naasbestaandes kan mak.
“So, ons verwelkom dit, want mense is nou baie armer en hulle moet gaan werk soek.
“Maar wat baat dit jy gaan soek vir werk, maar die restaurante kan nie teen volle kapasiteit bedryf word nie?”
Mbombo waarsku egter Covid-19 “is nie weg nie.”
Sy moedig veral diegene wat kwesbaar vir ernstige siekte is om ingeënt te word.
“As jy ingeënt is, weet jy jy het daai beskerming in geval jy besmet word,” voeg Mbombo by.
Mbombo was gister by die Delft-daghospitaal vir die relaunch van die Hello Doctor-veldtog.
Die Wes-Kaapse regering het vroeër hierdie veldtog in samewerking met die maatskappye Metropolitan en Momentum aangebied.
Met dié campaign kan pasiënte hul medikasie kry sonder om ure lank in lang rye by klinieke te moet wag daarvoor.
Kosbare
Elke pasiënt kry ’n USSD-nommer waarmee hulle hul dokter ’n “Please Call Me” kan stuur.
Hulle hoef dus nie by die kliniek te wees om dienste te kry.
Mbombo sê dié veldtog bespaar die gesondheidsdepartement kosbare hulpbronne, sowel as geld wat op ander gebiede bestee kan word.