Man se lyk in graf gevind

akkreditasie

NÁ MEER as twee jaar wat ’n man soos mis voor die son verdwyn het, is sy liggaam in ’n vlak graf gevind.

Die skokkende ontdekking is gister deur die Cloetesville-speurspan op die Libertas-plaas in Stellenbosch gemaak.

Sedert Joshwin Claasen (37) in Januarie 2020 verdwyn het, het die polisie nooit ophou soek na hom nie.

Son verneem dat die speurspan Sondag reeds met opgrawings-werk begin het, nadat hulle verskeie moontlike verdagtes ondervra het.

Net voordat die einste speurspan gister die bitter hartseer nuus aan sy mammie, Jo-Ann Spandiel, oorgedra het, het sy aan Son gesê dat sy net ’n been of ’n vinger van haar seun se liggaam wil sien voor sy sterf.

Spandiel sê sy dat die afgelope jare siek van binne gevoel het oor die verdwyning van haar geliefde seun.

Volgens haar het sy haar seun die laaste keer gesien toe hy vir sy broerskind ’n koek en kersies vir haar verjaardagpartytjie gebring het.

Jo-Ann Spandiel
Jo-Ann Spandiel sê sy het vir jare gewonder wat van haar seun geword het.

Sy vertel: “As die Here my nou moes kom haal, sou ek vir hom sê ek is nie gereed nie.

“Al wat ek wou hê, is dat daar ’n been of ’n vingertjie van my seun gekry moes word.

“Ek voel bly noudat sy liggaam gevind is, maar dis ook baie seer.”

Spandiel sê toe sy destyds nog gewerk het, het sy altyd verby die Libertas-plaas met die taxi gery en sou sy altyd ’n snaakse gevoel kry.

Sy sê sy en haar dogter het ná dit toe self ondersoek gaan instel oor wat eintlik met haar seun gebeur het.

Volgens Spandiel het sy in hierdie tyd baie dinge oor haar seun se moord uitgevind.

Sy sê dat daar selfs iemand in hul gemeenskap was wat na vore gekom het en gesê het hy weet wie haar seun vermoor het.

Maar ’n paar dae later het hy homself opgehang en moes hulle van voor af weer leidrade opvolg, vertel Spandiel.

Sy vertel verder: “Ek was laasweek nog op die plaas en jy kon sien mense het paniekerig begin raak.

“Daar is ’n tannie wat vir ons meer inligting kan gee, maar sy is ’n bietjie bang.

“Daar is baie mense wat weet.

“Daar was iemand wat gesê het, hulle het gesit en rook het toe my seun gesteek is.”

liggaam
Toetse sal nou gedoen word om die identiteit van die oorskot te bepaal.

’n Polisiewoordvoerder, a.o. Joseph Swartbooi, het bevestig dat ’n saak van Claa­sen se verdwyning destyds by die Cloetesville-polisie aangemeld is, wat verder ondersoek is.

Volgens Swartbooi is navrae gedoen om die ondersoekspan te help om die vermiste persoon op te spoor.

Hy verduidelik: “Die liggaam van ’n onbekende persoon is vandag (Dinsdag) op die Libertas-plaas ontdek.

“Die identiteit van die slagoffer moet nog vasgestel word.

“ ’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.”

Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees