
ROBERTSON. – Sy flenter-kooi het hom alle hoop in die lewe laat verloor.
Vir baie van ons is ’n bed die plek waar jy jou kop gaan neerlê om ’n uiltjie te knip.
Maar vir Anton Brown (55) is sy kooi net pure bad luck wat hom in die steek laat – wat nagrus én ’n girlfriend betref.
’n Mismoedige Brown verduidelik met ’n groot frons op sy gesig: “Ek lê so te sê in ’n doodskis en kry die naarste drome van my lewe.”
Brown sê hy kan nie bekostig om nugter te gaan slaap nie, want dan druk die spoke hom behoorlik vas in die stukkende bed waarin hy slaap.
“Dis ’n vreeslike gevoel, maar ek sal maar moet deurdruk,” het ’n mismoedige Brown gesê.
Brown is ’n single ou en sê dis oor sy kooi lyk soos wie-kom-daar-aan, dat hy nie ’n girly kan kry nie.
“Wanneer van die plaasmeisies saam met wie ek werk ’n dop kom drink en bietjie wil skuinslê, skrik hulle hul letterlik weer nugter wanneer hulle my slaapkamer ingaan,” het Brown skamerig confess.
Volgens Brown steek sy kooi hom in die skande en kan hy nie ’n nuwe een bekostig nie.
“Met die min sente wat ek op die plaas verdien, kwalifiseer ek nie by ’n meubelwinkel vir ’n nuwe lê-ding nie,” het Brown verduidelik.
Volgens Brown sal hy moet planne beraam om sy kooi self reg te maak, al moet hy selfs nou ook boomblare daarin gooi, sodat hy die winter warmer kan slaap.
Brown se buurman, Frikkie Galant, sê hy het vir Brown aangeraai om minder te entertain.
“Hy kon al vir hom ’n ander kooi cash gekoop het as hy meer spaarsamig met sy sente gewerk het,” meen Galant.