Vrou nou moeg vir lui man met string vroue

akkreditasie

Liewe Antie Mona

EK IS op die punt om op te gee in die lewe.

Antie, ek het 20 jaar van my lewe gemors op ’n man wat maar net nie wil regkom nie.

Hy bly dronk, is lui vir werk en hou ’n string vroue aan.

Wat hulle in dié ding sien, weet ek nie, want hy is dan selfs lui om sy gat te was.

Ek het gehoor hy het by twee verskillende vroue kind gemaak, maar hy stry totdat hy blou in die gesig is.

Ek is die een wat deur die jare ons huishouding aan die gang gehou het.

Hy hou nie lank by ’n werk nie, dan is die ander mense ’n probleem. Dis nooit sy skuld nie. Ander maak dat hy nie meer daar kan werk nie.

Dan raak dit ’n situasie waar ek weer alleen die pot aan die kook moet hou vir ons kinders.

Toy boy

Maar nou is ek moeg daarvan om altyd die een te wees wat na alles moet omsien.

Ek het laas jaar met ’n kollega van my begin chat op WhatsApp. Hy is agter my lyf aan. Ek weet dit al ’n tyd lank, maar het hom nooit enige aanmoediging gegee nie.

Dit is vleiend vir die gemoed om te weet dat ’n jonger mannetjie nog belang stel in my met my ou lyf.

Ek is in my early 40’s en as ek dit nie mis het nie, is hy nog in sy 20’s — ’n regte toy boy, soos wat die mense altyd gesê het.

Antie, soos ek gesê het, is hierdie mannetjie omtrent laf agter my aan.

Ek het hom gesê dat ek sy ma kon gewees het, maar dit skrik hom nie af nie.

Vir my eie man het ek lankal nie meer lus nie. Hy staan my nie meer aan nie en ’n two-minute noodle hou langer as hy uit.

Wie kry ook dan lus vir ’n man wat so permy na ou drank vrot?

Verder sukkel sy meneer om styf te raak. Baie kere word ek uitgeskel as hy dronk is en dan sê hy dis omdat hy nie meer lus vir my is nie.

Hierdie jonger kollega wil hê ons moet mekaar eers in die geheim sien, en as dinge dan uitwerk, kan ons ons verhouding public maak.

Ek begin al hoe meer wonder of ek nie maar die kans moet vat nie. ’n Mens lewe mos net een keer, of hoe?

Sal dit so verkeerd van my wees om ook net vir once in my life ’n bietjie geluk te proe?

My lewe is op die oomblik so suur en ek voel dat ek ’n bietjie excitement en geluk verdien.

Wat dink Antie? Ongelukkige Vrou, WhatsApp

Daar bestaan by Antie geen twyfel dat ons almal geluk in ons lewe verdien nie.

Ongelukkig kan dit nie elke dag van ons lewe net somer wees nie. Die lewe bly maar ’n mengsel van die goeie en die slegte.

Geluk en opwinding kan jy anyway nie najaag as jy getroud is nie. Dit maak nie saak in watter jaar ons is nie, maar oor die draad kuier bly ’n groot no-no.

Die meeste dinge in die lewe hou nie vir ewig nie. Selfs huwelike vou. Daarvan getuig die hordes egskeidings wat jaarliks in die land afgehandel word. As jy weer jonk en wanted wil voel, sal dit beter wees as jy dit sonder ’n trouring aan die vinger aanpak.

Maar voordat jy vinnig skeihof toe hardloop, moet jy ook vir ’n slag stilsit en besin oor hierdie jonger kollega van jou.

Veral sy flou verskoning dat julle mekaar eers in die geheim moet sien. Vir wat? As jy byvoorbeeld geskei is, hoef jy mos nie die rol van die romantiese skim te vertolk nie? Hoekom moet jy die rol van “Anoniem” in só ’n verhouding vertolk?

Daar moet dus goed gedink en deurdink word voordat jy enigsins tot ’n besluit kom. Jy is dalk vir hierdie jonger man net ’n ouer-vrou-fantasie. Jy is dalk net ’n geheime side dish omdat hy waarskynlik reeds in ’n verhouding is.

Jy is dalk nie iemand wat hy weens julle groot ouderdomsverskil sien as die vrou met wie hy die res van sy lewe wil spend nie.

Die groen gras aan die ander kant van die draad is in die meeste gevalle net click bait.

Daar is nie één probleem in ’n huwelik wat nie oorkom kan word as albei partye bereid is om daaraan te werk nie. So, wees baie versigtig dat jy op die ou einde nie maar net iemand se aas is nie!

Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees