‘Moeë’ girlfriend soek geen QT met my nie

akkreditasie

Liewe Antie Mona

EK IS C van R en het so ’n bietjie liefdesprobleme.

Ek en my meisie is so te sê al 12 jaar saam.

Ons het al ’n paar keer opgebreek, opgemaak en dan maar weer probeer.

Antie, ons het twee kinders saam. In die verlede het ek baie gedrink. Om presies te wees, elke naweek.

Sy het my gelos daaroor. Maar die rede vir my drinkery was dat ek deur ’n dip gegaan en nooit met mense daaroor gepraat het nie.

Ek het altyd maar die dinge wat my gepla het, opgekrop. As ek met haar wou praat oor die dinge wat my pla, was sy altyd te besig.

Vriende

Of sy was altyd te besig met haar vriende. Ek het altyd maar gevoel dis beter om te drink, want al was dit net vir daardie tydjie, het die drank darem my probleme weggevat.

Sy het gevoel ek is meer met my vriende as saam met haar.

Maar as ek dinge saam met haar wou doen, dan wou sy nooit dinge saam my doen nie.

Dit was altyd ’n nee van haar kant af, of sy is saam met haar vriende.

Sy het altyd gesê ek is die probleem wat naweke drink en weg van die huis af was, maar sy het nooit tyd gehad vir my nie.

Ek het gevoel ek drink dan maar liewers, want ek het nooit kans gekry om met haar te praat oor die dinge wat my pla nie.

In die meantime het sy iemand anders begin sien. Ek het op haar phone gegaan en op al die boodskappe afgekom.

Ons is toe uitmekaar uit en ek het gevoel dinge raak te veel vir my.

Ek het gevoel ek wil nie meer leef nie en het pille gedrink en was dae lank in die hospitaal.

Ná ’n tyd het ons besluit om weer te probeer en so... maar ek weet nie, Antie.

As ek nou nog vir haar vra om ’n ding saam my te doen, dan moet ek hoor sy is nie lus nie, sy is moeg... Maar sy is gou om saam met haar vriende iewers na toe te gaan.

Ek het uit my foute geleer en is baie rustiger as wat ek voorheen was.

Ek gaan nie meer so baie uit nie en is die meeste van die tyd by haar en die kinders.

Die een oomblik is sy só, die ander oomblik is sy só. Ek weet nie of sy nie kan besluit wat sy wil hê nie. Het Antie dalk raad vir my? C van R, WhatsApp

Hier het julle ’n kans gekry om dinge te laat werk. Om saam as ’n couple ouers vir julle kinders te wees.

Maar dit wil lyk of daar geen begeerte van haar kant af is om haar deel te doen om dinge te laat werk nie.

Is die nice times saam met haar vriende dan belangriker as om ’n future met jou en die kinders te bou?

Jy noem in jou voice note ongelukkig nie hoe oud die ma van hierdie kinders van julle is nie, maar haar gedrag spreek van dié van ’n teenager. ’n Tiener wat diep traag is vir groot, volwasse en verantwoordelik raak.

Nes drank is selfmoord nie die antwoord nie. Antie hoop jy het daai nou al besef.

Selfmoord is permanent waar jy nooit weer deel van jou kinders se lewe gaan wees nie en elke milestone van jou kinders gaan misloop deurdat jy jouself uit hierdie lewe geëlimineer het.

Jou kinders het jou nodig, moet daai asseblief nooit vergeet nie.

Al gee hulle ma jou die minste aandag en stel ander en plesierboot-tye bo jou, móét jy die groter prentjie sien en besef dat jou kids nog vir jare en jare lank jou nodig het om hulle te mould, te guide en van al die dinge van die lewe wys te maak.

Ná twee kinders saam met jou kan jou meisie nie wil terugstaan en te kenne wil gee dat sy nie weet wat sy uit die lewe wil hê nie.

Haar gedrag grens aan selfsug, want dit is hier ’n geval van wat sy net wil doen en nie hoe haar family as ’n eenheid kan thrive nie.

Sy skram weg van ’n ernstige talk met jou, want sy wil nie die waarheid hoor nie.

In ’n Fanta-blikkie mindset wil sy haar aanhou verbeel dat sy dit nog het en nes die ander jong vroue sonder responsibilities kan paartie en nice times hou.

Maar van ’n talk kan julle nie wegskram nie.

Lewensprentjie

Dinge is tans net besig om weer op te bou tot by ’n punt waar die krake van vroeër weer na vore gaan kom, en dalk selfs groter as voorheen.

Julle albei sal moet besluit wat julle uit die lewe wil hê en of julle julself saam sien in hierdie lewens-prentjie.

En selfs al is daar nie ruimte vir jou in haar besige lewe nie, moet jy altyd onthou dat die antwoord op jou probleme nooit in die drankbottel gevind kan word nie.

Nie eens tydelik nie.

Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 53 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 4 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 227 stemme
Ons is posh en het fibre!
37% - 164 stemme
Stem
Jongste Son

8 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees