Luisgat-man en seuns maak my lewe een hel

akkreditasie

Liewe Antie Mona

DAAR is dae wat ek wonder of die lewe nog die moeite werd is.

My man en kinders maak dinge vir my baie moeilik.

My man is lui vir werk. Hy kry net so nou en dan ’n odd job en lê dan die res van die jaar by die huis.

My kinders is albei klaar met skool, maar ook klaar met die future, só lyk dit my.

As my man werk, gee hy my nie ’n sent nie. Hy is lief vir dagga rook en rook en drink basies die geld uit wat hy verdien.

My kinders skarrel ook net vir ’n job as hulle wil party.

Verder moet ek as vrou en ma regstaan vir alles. Ek moet sorg vir die kos. Ek moet sorg vir die krag en dat die water betaal is. As daar nie ’n ding in die huis is nie, word daar na mý gehardloop.

Daar is dae wat ek voel of ek self die pad kan vat en kan hardloop sonder ophou, Antie.

Ek kan nie dink aan een vrou in hierdie lewe wat met so ’n lewe tevrede sal wees nie, maar wat kan ek doen?

Ek verdien nie ’n plaas se geld nie, maar skei ek, sal ek my pen­sioen met my man moet deel. Daarvoor sien ek nie kans nie.

My man werk glad nie in die winter nie.

Daar is dae wat ek uit die werk uit kom, dan lê hy nog steeds in die bed waar ek hom die oggend gelos het.

Dit baat nie eens ek praat met my skoonouers nie, want in hul oë kan hy net niks verkeerd doen nie.

My skoonma is al bejaard, maar met haar hele lewe op aarde het haar oë nog nie oopgegaan nie.

Sy het al reguit vir my gesê haar seun maak so met my omdat ek ’n slegte vrou is.

Dan moet ek hoor hy moet so lank wag in die aand vir sy kos en watter vrou is ek dan wat my man so lank laat honger kry?

Antie, hierdie is die dinge wat ek moet verduur.

Hulp van skoonpa se kant af kan ek nie verwag nie, want sy vrou sit op sy kop. Hy is basies iemand wat net moet ja en amen sê.

My eie familie het my afgeskryf. Ek praat al vir jare nie met hulle nie. Dit nadat daar ’n groot stryery oor ’n familiehuis was.

Ek voel so alleen. Ek wil nie my kollegas by die werk belas met my probleme nie en dra maar my kruis alleen, maak nie saak hoe swaar hierdie kruis is nie.

Ek is nie skaam om dit te sê nie, maar dit het al in my kop opgekom om die hele lot te vergiftig.

Dalk gaan ek tronk toe, ek weet nie, maar al wat ek weet, is dat ek dan verlos gaan wees van al hierdie mense wat my lewe so hel maak.

Dankie dat ek my hart teenoor Antie kon uitpraat.

Antie kry seker gereeld sulke briewe en ek hoop nie ek het Antie se tyd nou gemors nie. – Anoniem, WhatsApp

Liefie, moet vir geen oomblik dink dat jy my tyd mors nie.

Nie vir ’n sekonde is die las wat so swaar op jou skouers weeg ’n vermorsing van tyd nie.

Jy bevind jouself in ’n desperate situasie. Een waar die pleeg van ’n misdaad nie vir jou egter ’n opsie moet wees nie.

Nie een van hierdie mense is werd dat jy die res van jou lewe agter tralies sal moet deurbring nie.

Antie weet jy het hard gewerk vir jou pensioen tot op hede. Ai, daai geld bly maar altyd aan die min kant. Maar weet jy, liewers tydens ’n egskeiding deel, as om in ’n vroue-tronk ’n sel met ’n geharde misdadiger te deel.

As julle in gemeenskap van goedere getroud is, sal jul bates tydens ’n egskeiding verdeel moet word.

Jy bring baie meer na die tafel as hierdie man. Hoewel jy finansiële verliese gaan ly, gaan jou vryheid die bonus wees waarby geen geld kan kom nie.

Jou kinders is ook groot en oud genoeg om vir hulself te sorg, so hulle sal hul eie pad in die lewe moet oopkrap.

Jy is nie op hierdie aarde geplaas om ander mense se laste vir hulle te dra nie.

Laat daai man wie se ma niks van hom wil weet nie, gerus maar na haar seun omsien wat nie ’n man wil word nie.

Jy en jou geluk is ook belangriker en jy sal met tyd sien sodra hierdie las van jou skouers af is, happiness sal weer ook sy inkleurboek in jou lewe inkleur.

Alle sterkte!

Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
25% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 4 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees