Hubby moedeloos oor skoonfam bly inmeng

akkreditasie
Antie Mona
Antie Mona

Liewe Antie Mona

EK EN my gesin woon nou al ’n paar jaar op ’n klein dorpie aan die Weskus.

Ons het juis hierheen getrek om ’n nuwe begin te maak, Antie.

Daar was baie problems in ons huwelik. Probleme wat net vererger wis deur inmengerige familie.

Ek is nie iemand wat graag wil slegpraat van iemand anders nie, maar my skoonma is iemand wat haarself nie kan help om haar neus orals in te druk nie.

My vrou se twee susters is ’n photo finish agter hulle ma. Twee volwasse vroue wat so besig was om by ander se sake in te meng dat hulle eers te laat besef het hulle mans jol.

Vars

Maar steeds het dit hulle nie ’n les geleer nie, want hulle bly experts in ander se lewe, behalwe hulle eie.

Ek kan nie vir Antie vertel wat ’n vars briesie dit was om weg te trek uit die stad nie.

Dinge was toe sommer beter tussen my en my vrou. Vir die eerste keer in jare kon ons ’n gesprek voer sonder dat die een in die ander een se keelgat wou afspring.

Die verandering was ook duidelik sigbaar in ons kinders wat gelukkiger was en nie meer so gestres was soos vantevore nie.

Maar, soos wat hulle sê, lekker is ongelukkig baie kere net ’n vinger lank. Net toe dit vir my begin voel of ons geluk weer gevind het, toe besluit vroulief se familie mos hulle wil by ons kom kuier.

Jinne, Antie, sommer van die eerste kuier af al was dit dieselfde nagmerrie van voor af.

Ek kan nie my vrou verstaan nie. Ek kan nie verstaan hoe sy haar só kan laat beïnvloed deur haar ma en siblings nie. Die pa is orrait, maar ek kan sien die oom het ook lankal gesien in sy huishouding gaan hy nie ’n fight wen nie.

My vrou is ’n ander mens as haar ma en susters by haar is. Ek ken dan nie my eie vrou nie.

Antie, petrol is verskriklik duur, maar hierdie mense ken nie van een keer elke drie of ses maande kom kuier nie.

As hulle kom kuier, bly hulle sommer ’n week. En soos wat hulle moeilikheid aanmekaar steek, só vreet hulle ons leeg.

In fact, as ons beursies eers begin bloei, begin hulle hulle uit die voete maak.

My vrou maak haar kaal vir hulle. Hulle word gewine en gedine en net die beste moet voorgesit word. En so tussen die groot vretery word k*k aanmekaar gesteek. Ek het vir my vrou gesê ek is jammer, maar ek gaan myself nie weer deur die dinge sit wat ons moes deurmaak toe ons nog in die Kaap gebly het nie.

Haar woorde aan my was ek moet maar maak wat ek wil, maar sy sal altyd daar wees vir familie.

Nou, kyk, ek het geen probleme met familiebande en die bond van liefde wat bestaan nie.

Maar hierdie is nie liefde nie. Hierdie is uitbuitery en moeilikheid veroorsaak. Dit lyk dan vir my dié mense gaan nie rus voordat ons lewe ook so miserable soos hulle s’n is nie.

Maar hoe maak ek dat my vrou dit in haar kop kry? Sy staar haar blind teen hierdie dinge.

Daar is die kinders ook nie meer happy nie, maar dit lyk nie of ons gevoelens tel nie.

Jammer dat ek so ’n lang brief geskryf het, maar ek moes net afpak teenoor iemand.

Dit voel of ek van my kop af kan raak oor al hierdie dinge. — Moedelose Hubby, WhatsApp

Dit boggles natuurlik die mind dat iemand soos jou vrou nie kan sien watter onmin in haar huishouding gesaai word elke keer as hierdie mense in die prentjie is nie. Dit laat jou dan besef lojaliteit kan inderdaad blind wees.

Kyk, hulle sê bloed is dikker as water, maar ’n mens kan wraggies nie so blind wees vir selfs familielede se foute en bymotiewe nie.

Wil sy nou sê sy kan nie sien watter verskil julle trekkery gemaak het aan julle verhouding en die well-being van die kinders nie?

Is julle dan net aanhangsels wat anyway maar tweede moet kom wat haar familie betref?

Jou woede en teleurstelling is te verstane. Antie dink nie enigeen kan jou verkwalik omdat jy so mismoedig oor die situasie voel nie.

Om jou vrou tot ander insigte te bring, gaan nie ’n maklike taak wees nie. Die skille op haar oë is baie goed vasgesweis.

Tog sal jy en die kinders kragte en idees moet saamsnoer oor hoe julle hierdie veels te gereelde vuurspuwende kuiers gaan buffer.

As jy hoor hulle wil weer kom kuier, reël jy sommer ’n naweek weg vir jou en die fam.

As daar geld available is om hierdie mense te entertain, kan daardie geld net sowel gebruik word om ’n lekker wegbreeknaweek vir julle te organise.

En só gaan julle voort tot een van hulle ’n vel oor hulle gesig groei en die boodskap begin kry.

Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 75 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
26% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 3 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees