Eksman met oop gulp soek nóg ’n kans by my

akkreditasie
Antie Mona
Antie Mona

Liewe Antie Mona

EK IS in 2020 geskei ná 10 jaar in ’n huwelik waar my man eenvoudig nie wou ophou met sy cheating nie.

Antie, tot die einde wou hy my nog oortuig om nie voort te gaan met die egskeiding nie, maar my mind was opgemaak.

Hy het oor die jare darem net te veel my vel van my gesig af getrek met al die dinge wat hy aangevang het.

In die dorp waarin ons gewoon het, was daar nie één persoon met ’n rok aan agter wie hy nie was nie.

Hy sou self met van hierdie vroue flirt as ons saam by ’n winkel of geleentheid was.

Of dit nou ’n dronklap of kerksuster was . . . sy zip was oop vir elke geleentheid.

Elke kans wat ek hom gegee het om aan ons huwelik te werk, het hy terug in my gesig gegooi.

Die laaste strooi was toe hy ’n meisie swanger gemaak het wat in ons dorp as die queen van alle sjebeens bekendstaan.

Hy het gestry. Selfs die dag toe ons egskeiding finaal afgehandel is, het hy gestry dat dit nie sy kind is nie.

Nie lank daarna nie het hy egter op Facebook gespog met die babatjie. Antie, ek het besef ek hoef nie die victim in die verhaal te wees nie.

Dat dit oukei is om die ding te los en aan te beweeg met my lewe.

Dis wat ek ook gedoen het. Ek het die dorp verlaat, vir my ’n werk in die Kaap gekry en hierheen getrek.

Ek het toe begin leef vir my werk en vir die dinge waarvan ek gehou het om te doen in die lewe. Veral die stokperdjies wat my man nie wou hê ek moes doen nie.

Vir mans het ek maar die minste van tyd gehad, want ná my mislukte huwelik was die manlike geslag die laaste ding op my mind.

Maar ’n jaar gelede het ek en die oulikste van kollegas meer as net vriende geraak.

Hy kom ook deur ’n egskeiding en is regtig ’n lieflike mens.

Ons verhouding is meer as net physical – ons het so baie in gemeen.

Ek was aan die begin maar baie versigtig, want vir hartseer het ek nie meer krag nie.

Ons het dit stadig gevat en dit het begin blom as ’n mooi, mooi verhouding wat ek nie kon dink ek ooit sou ervaar nie.

Maar Antie sal my nou nie glo nie. Ek weet nie hoe my eks my opgespoor het nie, maar die man is nou lastiger as die lastigste vlieg.

Hy het glad al Kaap toe gekom en by my werk kom perform.

Hy soek nog ’n kans. Net so. Sonder enige verskoning oor wat hy in die verlede aan my gedoen het nie.

Hy wil net hê wat hy wil hê.

Ek het die man mooi laat verstaan dat daar geen maar géén begeerte by my is om hom ooit weer in my lewe te hê nie.

Maar hoor is min, Antie.

Die ergste van alles is dat hy nou probeer om onmin in my verhouding te saai.

Die man wat ek date ken nie sulke cheap gedrag van my eksman nie. Dié wou al by ons werk baklei het en het groot skandes kom maak.

My huidige ou wil nou hê ons moet eers ons verhouding op ys sit, want hy is nie lus vir sulke drama nie.

Antie, ek weier, want ek het ’n reg om aan te gaan met my lewe en ek was nog nooit so gelukkig soos nou nie.

As ek maar net my eksman so ver kan kry om dit in sy klipharde kop te kry dat ek nooit, ooit weer in hom belang sal stel nie. Anoniem, WhatsApp

Jou eksman is soos daai fabrieksfout-koppies wat sonder ore teruggekom het.

Ongelukkig kan hy nie van die rak afgehaal word en terug fabriek toe geneem word sodat daar vir hom ore aangewerk kan word nie.

Hy is dikvellig en gaan eenvoudig nie aanvaar dat jy nie meer in hom belangstel nie.

In sy klein verstandjie kan hy nie verstaan hoekom jy al die vorige kere wat hy oor die tou getrap het, vergewe het, en dit nou nie meer wil doen nie.

Ongelukkig gaan dinge net erger raak as jy hom nie vasvat nie. Hierdie man is nie net ’n nuisance nie, hy harass jou.

En in só ’n geval het jy die volste reg om ’n interdik teen hom uit te haal.

Een waar as hy dit verbreek, hy en sy jol-stert in die tronk kan opeindig.

Hierdie is dalk die ideale manier om hom for good van jou rug te kry. Dit is belangrik dat jy nou die bal aan die rol sit.

Gaan na jou naaste polisiestasie, begin om die nodige vorms in te vul en kry daai protection order-bal aan die rol.

Niemand, maar niemand kan van jou verwag om ná ál die strooi wat jy klaar moes deurmaak, steeds hierdie jong ná jul divorce te entertain. Vat hom vas!

Sê jou sê
Wat gebruik jy om Netflix, Showmax, etc te kyk?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
My selfoon data
12% - 67 stemme
Ek het 'n selfoon-kontrak
1% - 5 stemme
Ek het wifi :-)
51% - 296 stemme
Ons is posh en het fibre!
36% - 208 stemme
Stem
Jongste Son

18 Augustus 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees