Dié geskeide moan om al die verkeerde redes

akkreditasie

Liewe Antie Mona

EK EN R is nou al vier jaar lank ’n couple.

Dinge is die meeste van die tyd orraait, Antie.

Maar die vrou kan moan! Nie eens in die bed nie, maar oor elke liewe ander ding.

Sy is 42 en ek is 50. Daar is dae dat ek regtig kan sien hoekom haar man haar gelos het.

Sy is geskei, ek was nog nooit getroud nie en dit was juis omdat ek altyd gesien het hoe swaar my vrinne onder hulle vroue kry.

R is iemand wat hou van afshow. Foto’s van wat ons ook al doen, moet op Facebook gelaai word.

Ons moet weggaan vir ’n naweek sodat haar Facecbook-vriende kan sien “she is living the life”.

Ek het al aan haar gesê dit is nie nodig om ander mense te impress nie, maar hoor is min.

Jinne, Antie, die lewe is deesdae dan so duur. As iemand net praat van petrol, dan vloek ek al. Maar ry moet ons ry om by gastehuise in te boek.

Koop

Omdat ons nie kinders saam het nie, beteken dit mos nie ons moet geld so mors nie. Of wat dink Antie?

Die vrou praat van trou, maar wil hê ons moet huis koop tussen mense wat geld soos bossies het.

Kyk, ons het albei ’n goeie werk, maar dit sit nie lekker by my om so bo my vermoëns te moet leef nie.

Daar is niks fout met die area waar ek tans woon nie. Dis rustig en hoewel almal maar swaar kry, is dit ’n lieflike omgee-buurt waar mense nog uitkyk vir mekaar.

Ek het al vroeg in my loopbaan hierdie huis gekoop — iets waarvoor ek baie dankbaar voor is, want my bond is amper klaar afbetaal.

Maar niggie wil nou hê ek moet verkoop, want as ons trou, soek sy ’n nuwe huis.

Die vrou het al als verander om my. Eers was my klere te outyds, toe moes ek hoor my vriende is ook nie goed genoeg nie.

Nou, Antie, ek is nie meer ’n kind of ’n jongman nie. Ek het haar mooi laat verstaan my vriende is iets wat nié gaan verander nie.

Hulle is nie slegte mense nie. Nie een van hulle is gangsters, vroueslaners of ’n ander soort krimineel nie. Ons kom al ’n ver pad saam. Dis mense wat deur dik en dun by my gestaan het.

R het niks hiervan gehou nie. Nou word daar elke dag op my kop gepes. Dan het dié een iets gesê wat sy nie likes nie, dan het iemand anders haar kamma vuil aangekyk.

My kop pyn nou al as ek net dink aan waaroor sy volgende gaan moan.

Dit laat my meer en meer wonder of dit enigsins die moeite werd is om met só ’n nooi kansel toe te draf. — Anoniem, WhatsApp

Wanneer dit goed gaan met jou, is dit nie nodig om daaroor te brag of dit onder mense se neus te vryf nie.

Mense is nie blind nie, hulle kan sien dit gaan goed met jou.

Dan moet ons ook nie vergeet van die mense wat so lief is vir brag oor hulle bling-life op social media, maar dan gaan dit in die “werklike” lewe nie so goed nie.

Kom ons sê ook maar niks van mense wat selfs loans aangaan vir luxury vakansies sodat hulle daarmee op die sosiale media kan spog nie.

Maar kaantie kou hulle agterna harde klippe soos wat hulle sukkel om daai lening terug te betaal.

Ons almal gaan deur ups en downs in die lewe. Dit is dus altyd beter om nie ’n leefstyl te wil handhaaf wat jy voor die voet weet jy nie sal kan maintain nie.

Hierdie is iets wat ernstige probleme (veral finansieel) in ’n verhouding of huwelik kan veroorsaak. Jy beter nóú jou voet dwars sit voordat dinge handuit ruk.

En jy beter nou vir R mooi laat verstaan dat jy nie haar social make-over eksperiment gaan wees nie. ’n Mens krap immers nie waar dit nie jeuk nie.

Daar kan nie van jou verwag word om alles te verander sodat jy in haar prentjie kan pas nie. As sy nie hêppie is met wie en wat jy is en oor die waarde wat jy tot haar lewe voeg nie, is dit háár probleem. Glad nie joune nie.

Hoe ouer ’n mens word, hoe minder lus is ’n mens vir drama en hoe meer besef jy dat dit glad nie nodig is om ander te impress met materialistiese dinge nie.

Daar bly egter mense wat glo hulle is slegs iets werd as mense hulle op ’n pedestal plaas. Hierdie dinge beter uitgesort word voor jou kanseldrafstappie.

Sê jou sê
Moet die salaries van Eskom-werkers gesny word oor load-shedding?
Kies asb. 'n opsie Oeps! 'n Fout het ingesluip. Probeer asb. weer.
Resultate
Hulle moenie betaal word nie
47% - 76 stemme
Haai nee, shame - hulle het families
16% - 26 stemme
Eskom se push
25% - 41 stemme
Gee my krag, elke dag
9% - 14 stemme
Wat is load-shedding?
2% - 4 stemme
Stem
Jongste Son

30 Junie 2022

Jongste Son
Klik hier om te lees!
Begin lees