
GISTERAAND by die Suidoosterfees-inryteater is Nolan Europa onder luide toejuiging en ’n getoet van motors as die wenner van die tweede aanlyn Lag My Kla-kompetisie gekroon.
Die tweede Lag My Kla-kompetisie is aan jou gebring deur Son, kykNET, MTN en die Suidoosterfees.
Kontantprys
Die 57-jarige grapjas van Delft het gisteraand lag-lag met die R15 000 kontantprys weggestap toe hy stof in die oë van die twee naaswenners, Gabriel Plaatjies en Jeremia Kammies, geskop het.
Die topdrie se komedie-vaardighede is die laaste paar weke deur die briljante komediante Shimmy Isaacs, Francois van As en Lunga Tshuka geslyp.
Nolan het laas week verjaar en sê hy het hom boeglam geskrik toe hy ingelig is dat hy dit tot in die finaal gemaak het.
“Toe ek die phone call kry om te sê ek is in die topdrie, het ek amper vergeet om my pille te drink.
“Om eerlik te wees oor hoe ek voel, dit is vir my die grootste verjaardaggeskenk.”
Hy vertel hoe die slypsessies met ’n gesoute komediant hom op die groot aand gehelp het.
“Wat baie interessant was om van die mentorsesies te leer, was timing, ritme en dan natuurlik die grappe wat tussenin vertel is.”
Nou ja, geluk Nolan! Ons sien julle ander voornemende grapjasse weer by volgende jaar se Lag My Kla-kompetisie!