
VIER Suid-Afrikaanse klimmers, Alex Harris, Tian Liebenberg, Adrian Saffy en Sean Disney, het Sondagmiddag die SA rekord van 4 dae 18 uur en 38 minute oortref met 2 uur en 39 minute.
Dít toe hulle nege kruine in nege provinsies kafgedraf het.
Die ys op Seweweekspoort was plek-plek heuphoogte, maar hulle het dit nietemin in vier-en-’n-half ure geklim.
Hulle het die rekord aangedurf om geld in te samel op die crowdfunding-platform Backabuddy vir #ColdClimber.
Hul eerste mikpunt is om R100 000 in te samel.
Daarmee wil hulle koderingsprojekte van die Change the World Trust koop wat 350 leerders oor die hele land kan toerus om hul tegnologiese vaardighede te verbreed.
Die klimmers moes naby die KwaDuma-kruin yswinde van tussen 100- en 150 km/h trotseer.
Sowel Harris as Disney, wat Everest reeds oorwin het, het gesê om die SA rekord te breek, was die triomf van ’n leeftyd.
Die vier is lede van die Vrywilligers24-inisiatief.