
MEER as 4 600 mense gaan hul werk weens die verlenging van die aangepaste inperkings verloor.
Só sê die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondag in sy toespraak gesê het vlak 4 bly vir ’n verder 14 dae in werking.
Nicole Mirkin, ’n Basa-woordvoerder, sê: “Die huidige alkoholverbod wat sedert 28 Junie in werking is, het die alkoholbedryf reeds hard getref.
“Dit het na berekening 4 603 werksgeleenthede in gevaar gestel, en behels die potensiële verlies van R5,1 miljard in belasting en aksynsbelasting.
Verband
“In ál ons gesprekke met die regering is daar erken die hoofredes vir die verspreiding van die virus is groot byeenkomste, die versuim om maskers te dra en om sosiale distansiëring toe te pas.
“Daar is ook nie aan ons data verskaf wat die verband tussen alkohol en ’n toename in hospitalisering bewys nie. ”
Basa wag ook vir details oor hoe die Ters-fondse verleng sal word soos wat pres. Ramaphosa dit aangekondig het.
“Die enigste manier om die pandemie te oorwin, is ’n massa- inentingsprogram.
“Die sowat 400 000 mense wat van die alkoholbedryf afhanklik is, sal eenvoudig nie oorleef as die huidige alkoholverbod langer voortgaan nie.”