2 maande gelede
SA by kruispad; jý kan kies waarheen
Maak REG: Die verkiesing van 2019 kom nader. Foto: Netwerk24  ~ 

OOR net drie dae gaan meer as 27 miljoen kiesers in vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing hulle kruisies trek. Tog weet meer as 33% nog nie vir wie hulle gaan stem nie. Dít is nou volgens die marknavorser Ipsos se jongste peiling.

Dié tipe onsekerheid gebeur nie net oornag nie. Dit ontstaan weens ’n sameloop van ’n spul leë beloftes van die vorige verkiesing.

Oor die laaste vyf jaar het bitter min van daardie beloftes ’n realiteit geword.

Nou’s dit weer sulke tyd. Die campaigning vir die nuwe verkiesing is nog warm aan die gang. Daar is natuurlik weer (selfs meer) beloftes.

Soos ’n Son-leser skryf: “Ongelukkig was ek, die kieser, in die laaste paar jaar nie ’n bevoorregte burger nie.

Vrot

“Ek het egter ’n getuie geword van wanbestuur, korrupsie, hoë lewenskoste en die agteruitgang van ons infrastruktuur. En die mense vir wie ons gestem het, vat geen aanspreeklikheid hiervoor nie. Nou word daar van my verwag om weer te stem vir soveel leë beloftes.”

Nog ’n leser skryf: “Ná 25 jaar van ANC- en DA-regerings ly die apartheidsgemeenskappe vandag steeds onder drugs, gangs, alcohol addict­ion, moord en armoede. Moenie praat van werkloosheid, vrot transport, vrot hospitale, vrot klinieke en vrot skole nie.

“Dis ’n disgrace! Geen coloured met selfrespek kan vir die ANC of die DA stem nie!

“Sal die DA, ANC en Good ondernemings gee dat hulle geen bendegeld in hulle veldtogte gebruik nie?”

’n Leser uit sportkringe skryf: “Aan alle rugbyspelers in die Helderberg, veral dié in woon­gebiede soos Rusthof, Strand, Macassar, Sir Lowry’s Pass, Garden Village, Somerset-Wes, asook Gustrow en Broadlands Park.

“Ons as die sportmense moet mooi besin voordat ons ons kruisies gaan trek. Die afgelope 10 jaar het die regering in die Wes-Kaap sweet nothing aan ons sportvelde gedoen.

“Dit lyk steeds soos die hond se gat en die politici vee hulle af aan ons.

Betogings

“Ons klubs se ondersteuners moet in die reën sit om hulle spanne dop te hou, terwyl die span in die wit gebied vyfstergeriewe geniet.

“Dink mooi voordat julle stem. Straf dié wat nie omgee vir ons spelers en kinders se welstand nie. Stem vir dié wat vir ons iets sal doen.”

Ipsos se peiling wys ook vanjaar se verkiesing gaan ’n close battle wees.

Baie mense sê hulle gaan nie stem nie, want die nasionale én provinsiale regering het die afgelope 25 jaar niks vir hulle gedoen nie.

En dít val nie sommer uit die lug uit nie. Die toename in gewelddadige betogings oor veral misdaad, dienslewering en behuising getuig hiervan. Mense het oorgenoeg gehad en vat nou liewer die wet in eie hande.

Maar die pen is magtiger as die swaard. Wanneer Woensdag aanbreek, moet jy stem vir wie jy seker is ’n verandering sal meebring. Dit sál ’n verskil maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters