2 maande gelede
Blaadjie uit Pat se boek
sue ook party:Siphesihle Dube het die DA hof toe gesleep nadat die party sy naam van die DA-kandidatelys verwyder het. Dis afgehaal oor dié foto van hom en Patricia de Lille. Dube en De Lille, toe reeds ’n eks-DA-lid, is afgeneem by Rands, ’n restaurant in Khayelitsha.FOTO verskaf  ~ 

’N DIKDING van die DA in die Wes-Kaap het dié party hof toe gesleep.

Dít kom nadat die party Siphesihle Dube se naam van sy nasionale vergadering se kandidatelys verwyder het.

Dube is die woordvoerder van die Wes-Kaapse vervoerminister, Donald Grant. Hy was boaan die lys van kandi­date vir die komende verkiesing.

Hy het egter gou uitgevind wanneer hy met die verkeerde mense paartie, kan hy sy toppos kwyt wees.

Son het vroeër die maand berig Dube het in die sop beland nadat hy saam met die voormalige Kaapse mayor Patricia de Lille vir ’n foto gepose het.

Die foto is wyd in die sosiale media versprei.

De Lille, deesdae leier van die Good-party, het laas maand ’n verjaardagpartytjie gehou by Rands, ’n gewilde uithangplek in Khayelitsha.

Die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het Dube by die federale regskommissie verkla omdat hy saam met antie Pat gepaartie het.

Dít het daartoe gelei dat Dube se naam geskrap is van die kandidatelys.

Son verneem Dube het Woensdag by die Kaapse hoog­geregshof ’n dringende interdik teen dié besluit gebring. Uitspraak in die saak is tot nader kennis­gewing voorbehou.

Dube wou gister niks oor die saak sê nie.

Toe Son hom bel, het hy gesê: “Die saak is voor die hof. Daarom kan ek nie nou daarop kommentaar lewer nie.”

Steenhuisen het ook zip gekap toe Son hom gister om kommentaar nader. Hy het net gesê: “Die saak is voor die hof. Ek sal op die uitspraak wag.”

Die voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, James Selfe, het nie gister sy selfoon beantwoord nie.

Teen druktyd het hy ook nog nie op Son se SMS-navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters