10 dae gelede
Zelt faal as WP-held
zelt marais Foto: gallo images  ~ 

DIE man wat eers as redder van die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) beskou is, kan dalk binnekort die deur gewys word weens sy slegte geldsake en swak koöperatiewe bestuur.

Zelt Marais, president van die WPRVU, het homself nou die ongewildste man onder dié unie se klubs en ondersteuners gemaak.

Die afgelope maand brand die vure rondom dié omstrede leier dat dit dalk nie lank gaan wees voordat hy die deur gewys gaan word nie.

Marais se ongegronde uitlatings oor ’n beweerde omkopery van klubs deur MVM Holdings, die maatskappy wat ’n beherende aandeel in die unie se sakevleuel wou koop, was die eerste storm.

Hy is toe verneder toe sy eie bestuur hom aangesê het om ’n openbare verskoning aan te bied vir sy sêgoed.

Nou is die messe éérs skerp nadat hy (wéér sonder bewyse) besluit het om ’n raadslid en kandidaat vir die uitvoerende hoof, Junaid Moerat, te skors omdat hy glo inligting aan die media uitgelek het.

Dis dus geen wonder dat daar reeds ’n hele paar klubs is wat briewe aan die WPRVU geskryf het om hul wantroue in Marais bekend te maak nie. En dis klubs wat destyds vir Marais gestem het om president te word en die unie op koers te kry.

Klubs wil weet hoe die unie nóú nog in die skuld kan sit nadat Marais onderhandel het om uit die skuld te kom. Nou moet daar egter weer in regsgedinge gesit word teen die voorgestelde vennoot Flyt Property Group, wat die unie daaruit sou kom red.

Marais het die Flyt-ooreenkoms as die deal of the century beskryf, maar nou soek die maatskappy die R122 miljoen en meer terug nadat Marais en kie besluit het dis nie meer goed genoeg nie.

Skuif

Dis ook geen wonder dat spelers van die unie ook nuwe heenkome soek nie. En dit sluit nie net groot name in nie.

Daar is selfs diegene wat na bewering as leenspelers eerder na ander unies wil skuif om darem speelkans te kry, aangesien hulle in die afgelope seisoen maar min kanse gekry het.

Dit sal dié spelers ook die kans gun om dan hulself weer op die radar te plaas om aanbiedinge by ander klubs te kry.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters