9 dae gelede
Zelt deel sy skuldplan
Zet Marais  ~ Gallo Images

ZELT Marais het ’n plan om die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie van sy geldprobleme te red.

Die president van die WP Rugbyunie bevestig in ’n verklaring dat sy unie beoog om ’n leningsooreenkoms van meer as R112 miljoen met Dream World Investments aan te gaan.

Dít is om skuld aan die beleggingsmaatskappye Remgro en Investec terug te betaal.

Die onderhandelinge met Flyt Property Investment het gelei tot die opstel van ’n voorgestelde leningsooreenkoms tussen Dream World, ’n maatskappy binne Flyt, en WP Rugby.

Konsolideer

Onder die voorwaardes van die lening stem Dream World in om R112 miljoen aan WP Rugby voor te skiet sodat die unie sy skuld kan afbetaal.

Die lening word voorgeskryf teen die prima uitleenkoers vir vier jaar. Dis nie net om die unie se skuld te konsolideer nie, maar ook om die ooreenkoms rondom die herontwikkeling van die Nuweland-rugbystadion finansieel volhoubaar te maak.

Die omskakeling van die stadion in ’n ontwikkeling vir gemengde gebruik sal aansienlike inkomste in die vorm van munisipale tariewe en verwante diensfooie vir die WP Rugbyunie en die Stad oplewer.

Die voorgestelde leningsooreenkoms sal die WP ook beter in staat stel om gevorderde onderhandelinge met die Cape Town Stadium te bespoedig.

Met die WP as die ankerhuurder, sal die Cape Town Stadium gebruik word tot die voordeel van alle inwoners van Kaapstad.

Volgens Marais is die verhuising na die Cape Town Stadium die begin van ’n opwindende nuwe era in Suid-Afrikaanse rugby.

“Die Cape Town Stadium is ’n moderne fasiliteit wat op een van die beste plekke in die stad geleë is.

“Dit is ’n beter plek om rugby games dop te hou. Die veiligheid en sekuriteitsmaatreëls, moderne suites vir korporatiewe gasvryheid en mediese fasiliteite is van wêreldgehalte vir rugbyondersteuners.

“Die stadion het ook ’n verskeidenheid opsies vir openbare vervoer in die omgewing vir toegang vir fans van alle gemeenskappe.”

Die voorgestelde leningsooreenkoms en ontwikkelingsvoorstel moet môre op ’n vergadering van die raad van die WP Rugby goedgekeur word.

Die voorstel moet dan verder oorweeg word op ’n spesiale algemene vergadering van die unie op Woensdag 8 Julie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters