3 maande gelede
Wyle Madal so onthou
SY ander liefde Klopse Foto VERSKAF  ~ 

AS JY die man cave van wyle Christian “Madal” Abrahams van Tulpstraat in Hillcrest in Wellington binnestap, besef jy dié rugbylegende het ’n kleurryke lewe gelei.

Madal was beslis ’n flambojante karakter wat vir elke event kleurryk aangetrek was. Hy’s laas week in die ouderdom van 68 oorlede.

Die mure van Madal se man cave is gelaai met foto’s waar hy onder andere met Jake White, voormalige Springbok coach, en talle bekende rugbyspelers pose.

Hy was ’n getroue lid van kultuurorganisasies soos dié van die Kaapse Klopse. Hy’t klubs soos Hillcrest Starlights en Super Stars gestig.

Tientalle pics van hom en Burton, sy seun, se rugbyloopbaan pryk ook oral.

Vra enige Roses United-speler of -aanhanger en jy sal hoor hoe ’n groot invloed Madal op rugby in die streek gehad het.

Sy werk om Roses se tuisveld, Pelikaanpark, te restoureer, is maar net een van Madal se groot bydraes tot die sport.

Sy rugbyloopbaan het van Roslinds tot die Wellington Rugbyunie gestrek waar hy en nog ’n legende, Francois “Kabalie” Davids, saam gespeel het.

Davids het in ’n huldeblyk aan Madal gesê hy was ’n “kleurvolle karakter wat sy gemeenskap eerste gestel het. Hy was een van die mense op wie jy kon staatmaak. Hy was ’n sterk rugbyspeler wat die spel hard gespeel het.”

Christephine Kearns, sy dogter, sê haar pa was die vervolmaking van wat ’n pa moet wees. “Hy was ’n man vir mense.”

Madal word môre 10:00 uit die VGK in Wellington begrawe.

Sy vrou, Josephine, sê: “Hy was maar ook ’n naughty boy in sy jong dae. Maar sedert die hartprobleem by hom gediagnoseer is, het hy vrede met almal gemaak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters