Verlede maand
WP vereer sy atlete
PURE GOUD: Ashley Smith mik na die Olimpiese Spele in Tokio.  ~ Ashley Vlotman

WESTELIKE Provinsie Atletiek (WPA) het sy atlete Saterdag in Kaapstad se Groenpunt-atletiekstadion vereer.

Dis vir hul prestasies by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se junior en senior atletiekbyeenkomste wat onlangs onderskeidelik in die Paarl en Pretoria plaasgevind het.

Die 24-jarige Ashley “Blokkie” Smith van Eastridge in Mitchells Plain was een van die grootste uitblinkers.

Hy het laas week ’n goue medalje in die 3 000 m-hindernis in ’n tyd van 8 minute en 34 sekondes verower.

Al was Smith baie trots op sy prestasie, glo hy ook hy kan beslis nog beter vaar.

Hy sê aan Son: “Ek het laas jaar baie hard gewerk in die lockdown en het die hele seisoen geglo dat ek die SA titel kon wen.

“As ek verloor het, sou dit my eie skuld gewees het.

“Ek het dus in my ver­moëns geglo en ná die eerste ronde het ek geweet dat ek sou wen, want niemand wou die pas aangee nie.

“Ek moes net my wedloopplan uitvoer wat ek en my afrigter bespreek het.”

Rocco van Rooyen van die Bellville-atletiekklub het met ’n gooi van 85,97 m ’n goue medalje in die spiesgooi vir mans gewen.

“Ek voel dit het sommer baie goed gegaan,” vertel die 28-jarige.

“Ek is baie dankbaar dat ek op die oomblik bestendig gooi. Die meeste van my pogings gaan ver.

“Ek voel tans dus baie gemakliker.

Toegespits

“Die doel is net om daarop voort te bou en met elke vertoning aan te hou ver­beter.

“Dit is ook belangrik om nie net bestendig te vertoon nie, maar ook om in my benadering nederig te bly.”

Van Rooyen het Suid-Afrika reeds in 2016 se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verteenwoordig.

Al sy aandag is nou daarop toegespits om in Europa te gaan meeding en vir die Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters