10 dae gelede
WP verander kaptein
Dillyn Leyds staan die kapteinskap af. Foto: gallo images  ~ 

DILLYN Leyds sal nie die Westelike Provinsie teen die Goue Leeus lei nie.

Die Streeptruie pak die Gautengers môre in ’n Currie­bekerwedstryd op Ellis­park.

Leyds, wat die WP in sy vorige twee wedstryde aangevoer het, staan opsy vir Chris van Zyl.

Van Zyl maak sy terugkeer tot die speelveld nadat hy die eerste twee games weens ’n besering moes uitsit.

Die 30-jarige slot was laas jaar ook kaptein toe die WP die Curriebeker-titel agter sy naam geskryf het.

Van Zyl en JD Schickerling sal die slotkombinasie vorm.

Albei spanne is nog onoorwonne in vanjaar se Curriebeker-veldtog, maar die Streeptruie het baie lank laas die Leeus in Johannesburg geklop.

In vanjaar se groepfase is daar geen tweede kanse teen spanne nie. Dis dus belangrik dat die WP kompetisiepunte insamel.

Daarom soek John Dobson, WP-afrigter, ’n foutlose vertoning van sy spelers. Hy weet hoe gevaarlik die Leeus op die aanval kan wees.

“Ons sal akkuraat moet wees en tot die eindfluitjie voluit moet speel as ons as wenners van die veld wil stap.

“Ons kon nie ’n beter week van voorbereiding gevra het nie. Die ware toets is nou om al die goeie werk op die veld te gaan toepas.”

Dis nie ál verandering aan die WP-span nie.

Ernst van Rhyn skuif van slot na steelkantflank. Kobus van Dyk, meer bekend as ’n sterk baldraer, gaan die rol van baljagter (oopkantflank) vertolk.

Onder die stutte keer Michael Kumbirai terug na die beginspan.

Daar is net een verandering aan die Streeptruie se agter­lyn.

Dan Kriel gaan weer op binnesenter speel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters