16 dae gelede
WP Rugby ‘mors sy tyd met Masotti’
Tony McKeever  ~ Gallo Images

TONY McKeever meen die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) mors sy tyd om ’n ooreenkoms met Marco Masotti van MVM Holdings aan te gaan.

Volgens McKeever, ’n voormalige uitvoerende hoof van die Southern Spears, is die aanbod van Masotti en die Amerikaanse konsortium van $6 miljoen (sowat R100 miljoen) heeltemal te min geld om 51% van die sakevleuel van WP Rugby te bekom.

McKeever het gister aan Son gesê: “Die aanbod is in die eerste plek nog nie 25% van die waarde van WP Rugby se bates nie.

“Ek dink dit moet minstens in die omgewing van R400 miljoen wees om vir Zelt Marais, die president van WP Rugby, en sy raad die moeite werd te wees om dit eens te oorweeg.”

Al het Masotti dit ten sterkste aan Son ontken dat die aanbod ’n belegging van $2 miljoen (byna R33,4 miljoen) in die WPRVU en $3 miljoen (sowat R50 miljoen) in die sakevleuel van WP Rugby is, sê McKeever dit is glad nie die geval nie.

“Ek is oortuig daarvan dat die sogenaamde deal met Masotti nooit ’n belegging was nie, maar dat dit eerder ’n leenooreenkoms is.

“WP Rugby sal gek wees om so ’n deal te oorweeg as ’n geldige aanbod.

“Ek het agt jaar in Amerika deurgebring en is vertroud met van die sogenaamde uitlatings wat hy (Masotti) daar oor homself gemaak het.”

Volgens McKeever het Masotti die ooreenkoms verbreek deur dit in die openbaar te bespreek.

“So, tegnies is die ooreenkoms nie meer geldig nie. Dit sal beter wees vir hom om by Major League rugby in Amerika betrokke te raak.

“Sy proposisie bied geen waarde aan WP Rugby nie.

Gedoen

“Die voormalige onafhanklike raadslede het ’n belang gehad indien die transaksie sou deurgaan. Daar is dus ’n groot botsing van belange.”

McKeever voel Marais het ook die regte ding gedoen om die voormalige premier van die Wes-Kaap, Ebrahim Rasool, as die voorsitter van die onafhanklike raad aan te stel.

“Ebrahim Rasool is ’n voormalige minister van finansies in die Wes-Kaap.

“Hy (Rasool) is bewus van die dinamika van hoe dinge in die Stad Kaapstad werk en is ook goed vertroud met rugby op voetsoolvlak.

“Hy sou in sy dae as SA ambassadeur in Amerika ook waardevolle kontakte in die sakegemeenskap opgebou het. Hy kan voortaan ’n sleutelrol in onderhandelings met toekomstige beleggers speel.”

McKeever het bygevoeg dat die spelers nie oor hul toekoms by die unie bekommerd hoef te wees nie.

Hy is vol vertroue dat Marais op die regte pad is en dat WP Rugby in die Cape Town Stadium sal floreer.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters