9 maande gelede
WP Rugby grootbase kry trekpas
andre van der veen
Andre van der Veen  ~ 

TWEE van die WP Rugby se grootbase dr. Johan van der Merwe en Andre van der Veen het Vrydag die trekpas gekry.

Die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) het Vrydag in ’n verklaring bevestig dat die twee se ampstermyn as onafhanklike direkteure van WP Rugby se sakevleuel amptelik tot ’n einde gekom het.

Volgens die verklaring het: "Die WPRVU, as 100% aandeelhouer, het Vrydag na sy algemene jaarvergadering (AJV) bevestig dat die ampstermyne van bogenoemde direkteure as onafhanklike direkteure nie na die afsluiting van die AJV hernu sal word nie." 

Van der Merwe was die voorsitter van die sakevleuel, terwyl Andre van der Veen, die persoon was wat die voorgestelde belegging van sowat R100 miljoen van ’n groep Amerikaanse sakemanne in die WPRVU, gedryf het.

Die beleggers, wat verteenwoordig word deur ’n oud-Suid-Afrikaner, Marco Masotti van MVM Holdings in Amerika, beoog om ongeveer $6 miljoen (meer as R100 miljoen) in WP Rugby te belê. Sowat $4 miljoen (ongeveer R67 miljoen) is vir die Stormers geoormerk en $2 miljoen (sowat R33 miljoen) vir die unie.

Die Amerikaners het dit van meet af aan duidelik gemaak dat een van die voorwaardes vir die goedkeuring van die ooreenkoms is dat hulle ’n beherende aandeel van 51% in die unie wil hê. Die beleggers dring nie net aan op volle beheer van rugbysake en die sakevleuel nie.

Hulle wil ook verantwoordelik wees vir die aanstelling van die meerderheid van die direksielede, die uitvoerende hoof, sowel as die afrigters- en bestuurspanne.

Son het Donderdag berig dat dié sogenaamde belegging wat deur Van der Veen en Masotti voorgestel is, nie ’n kontant-inspuiting vir die Kaapse franchise gaan wees, soos almal gedink het nie. Dit is eerder ’n lenings-ooreenkoms, wat beteken dat die beleërde unie verder in ’n finansiële verknorsing kan beland.

Met Van der Veen nie meer ’n lid van die direksie nie, blyk dit ’n uitgemaakte saak te wees dat die ooreenkoms met Massotti deur die mat gaan val. 

As die enigste aandeelhouer van WPPR het die WPRVU sy dank en waardering uitgespreek vir die bydraes wat Van der Merwe en Van der Veen tot professionele rugby in Kaapstad gelewer het vir die tydperk wat hulle die Westelike Provinsie gedien het. Hulle het hulle alle voorspoed vir hul toekoms toegewens.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters