Verlede maand
WP-ratkas is geolie
WP Rugby
Ebrahim Rasool  ~ Gallo Images

VIR die raad van WP Rugby is dit ’n prioriteit om in Januarie ’n nuwe uitvoerende hoof aan te stel.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WP se sakevleuel, Westelike Provinsie Professionele Rugby (Edms.) Bpk., en John Dobson, hoofafrigter van die WP en die Stormers, het Dinsdag die media in ’n aanlyn konferensie toegespreek.

Volgens Rasool het die direksie onderneem om die skeiding van magte en funksies tussen die unie en die maatskappy te verdiep.

“Ons wil uitnemendheid terugbring in rugby. Dit geld in die raadsaal sowel as op die speelveld,” het hy gesê.

Rol

“ ’n Nuwe afsonderlike uitvoerende hoof moet in Januarie aangestel word wat die maatskappy tot nuwe hoogtes kan voer. Geldsake moet met deernis en integriteit behandel word.

“Die ratkas is nou geolie. Ons moet nou net seker maak ons kry die wiele aan die rol,” het Rasool gesê.

Volgens hom gaan Zelt Marais, president van die WP Rugbyvoetbalunie, ’n waardevolle direkteur van die raad bly. Hulle wil verseker maak Marais word nie oorbelas met verantwoordelikhede aan albei kante nie.

“Een van ons doelwitte is die skeiding van die rol van die direksie en die maatskappy.

“Die rol van die president sal verander deurdat hy die skakel tussen die sakevleuel en die aandeelhouers bly.

“Daar is mense wat ingebring kan word, wat kan uithelp. Solly Moeng is byvoorbeeld by die sakevleuel betrek om te help om die maatskappy op ’n weeklikse grondslag te bestuur.

“Dit sal dus voortaan nie nodig wees vir raadslede om op die operasionele gebied betrokke te wees nie.”

Rasool beoog ook om met die spelers gesprekke te voer om uit te vind wat hulle vir die spelers kan doen.

Hy sê die maatskappy is nie in finansiële gevaar nie, maar soos enige ander sportorganisasie in die wêreld, is hulle ook negatief deur die corona-virus-pandemie geaffekteer.

Vorentoe

“Ons moet dieding tussen die Toyota en die Rolls-Royce vind wat ons kampioenmateriaal maak. Ons is egter vol vertroue dat ons al ons verpligtinge aan die spelers, die borge en die aandeelhouers sal kan nakom.”

Rasool glo dus ’n equity deal is beslis steeds nodig om die WP vorentoe te vat te midde van al die on­sekerheid en verandering wat die pandemie veroorsaak het.

“Dit moet ’n wenooreenkoms wees, nie net ’n geldinspuiting nie. Dit moet ook nie wegvat van die WP se ryk nalatenskap van intellektuele eiendom en tradisies nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters