8 maande gelede
WP het nie meer A-span
Raymond van Niekerk  ~ Gallo Images

RAYMOND van Niekerk, ’n onafhanklike direk­teur van die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) se sakevleuel, het soos verwag Dinsdag sy bedanking ingedien.

Van Niekerk se besluit kom nadat dr. Johan van der Merwe en André van der Veen se termyne as onafhanklike direkteure nie op die WPRVU se algemene jaarvergadering hernu is nie.

Van Niekerk, wat voorheen ’n wêreldwye bemarkingshoof van In­vestec was, het gister aan Son gesê hy is by WP Rugby se sakevleuel betrek om ’n spesifieke rol te vervul.

Hy is ingespan in ’n kommersiële en bemarkings­hoedanigheid.

Van Niekerk moes byvoorbeeld kyk na ’n strategie vir onder meer die verkoop van kaartjies, adverteerders en borge.

“Ek het besluit om te bedank omdat ek glo die beste mense moes as direkteure in die raad aangebly het omdat hulle kundiges op hul gebied is.

“Dit maak geen ekonomiese sin om jou A-span die trekpas te gee terwyl jy besig is om ’n groot deal te onderhandel nie.

“My bedanking het nie as ’n skok gekom nie, want ek het al gesê ek sal waai wanneer die beste mense weggejaag word. En as jy nie met iets saamstem nie, moet jy ten minste die morele standpunt inneem om iemand anders eerder ’n kans te gee,” het hy gesê.

Die A-span na wie Van Niekerk verwys, is Van der Merwe, wat die voorsitter van die sakevleuel was. Hy is laas week amptelik vervang deur Ebrahim Rasool, ’n voormalige premier van die Wes-Kaap en ambassadeur na Amerika.

Die ander een is Van der Veen. Dié was aan die spits van onderhandelinge met MVM Holdings en ’n Amerikaanse konsortium.

Die oud-Suid-Afrikaner Marco Masotti van MVM onderhandel tans met die unie oor ’n beherende aandeel in die sakevleuel.

Zelt Marais, president van die WPRVU (die 100% aandeelhouer in die sakevleuel), het in Junie besluit om te onttrek aan ’n ooreenkoms met Investec oor die regte vir die ontwikkeling van eiendom op lang termyn.

Verskil

WP Rugby het besluit om eerder ’n leenoorkeenkoms van R112 miljoen met Flyt Property Holdings aan te gaan dat hy sy skuld aan Remgro en Investec kon terugbetaal.

Onder die raadslede heers ’n gevoel dat Van der Merwe, Van der Veen en Van Niekerk nie die nodige verskil gemaak het nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters