3 maande gelede
WP Boogie kwyt
Warrick Gelant  ~ Gallo Images

DIE Westelike Provinsie gaan Saterdag se Currie­beker-kragmeting met die Lions op Ellispark sonder die dienste van sy beste agterspeler moet aandurf.

Volgens Son se inligting het Warrick “Boogie” Gelant ’n kniebesering in die doodsnikke van Saterdag se nederlaag met 20-22 teen die Blou Bulle op Nuweland opgedoen.

Gelant gaan blykbaar vir die res van die seisoen buite aksie wees.

Die verlies van die Springbok-heelagter weens besering is inderdaad ’n groot terugslag vir John Dobson (afrigter) se span. Die 25-jarige boorling van Knysna het tot dusver ’n geweldige impak gemaak sedert sy aankoms in die Kaap.

Benewens die feit dat hy rotsvas onder die hoë bal is, was sy aanvallende spel en taktiese skopwerk met albei voete tot dusver uit die boonste rakke.

Nadat die WP-losskakel Damian Willemse in die Kapenaars se vorige game teen die Cheetahs met voortreflike spel vorendag gekom het, het hy Saterdag nie die mas opgekom met sy stelskopwerk teen die Bulle nie.

Die 22-jarige het saam met sy plaasvervanger, Tim Swiel, se verbroude doelskop met net twee van die Streeptruie se ses skoppe pale toe geslaag. Dit het die span duur te staan gekom. Al was sy taktiese skopwerk nie sleg nie, het Willemse een keer die bal van ’n afskop laat val. Dit is duidelik dat Willemse se vrot stelskopwerk sy selfvertroue en algemene spel belemmer.

In die beseerde Gelant se afwesigheid sal Dobson nou genoop wees om Willemse in die laaste vesting teen die Lions in te span, met Swiel in die nr. 10-trui.

Dobson sal ook weer moet besin oor sy senter-kombinasie van Rikus Pretorius en Dan du Plessis. Dobson het reeds laas week bevestig dat Ruhan Nel teen die Lions ingespan gaan word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters