9 maande gelede
WP besin oor poste
Marcel Golding  ~ Gallo Images

MARCEL Golding gaan straks nie soos berig een van die vakante poste vir onafhanklike direksielede van die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) se sakevleuel vul nie.

Dr. Johan van der Merwe (voorsitter) en André van der Veen se termyne as direksielede het laas Vrydag amptelik op die WPRVU se algemene jaarvergadering verstryk.

Die unie, wat ’n 100%- aandeelhouer in die sakevleuel is, het besluit om Van der Merwe en Van der Veen die trekpas te gee en nie hul termyne te hernu nie.

Luidens Son se inligting gaan Ebrahim Rasool, die voormalige premier van die Wes-Kaap en SA se ambassadeur na Amerika, Vrydag amptelik in Van der Merwe se posisie as die direksievoorsitter aangestel word.

Die persoon wat Van der Veen se plek op die WP se direksie gaan inneem, is egter nog nie bekend nie.

Kommer

Van der Veen word beskou as die argitek van ’n beoogde belegging van R100 miljoen in WP Rugby deur ’n groep Amerikaanse sakelui.

Al kan die onderhandeling met die oud-Suid-Afrikaner Marco Masotti en sy konsortium steeds in Van der Veen se afwesigheid voortgaan, is daar nog kommer dat dié ooreenkoms slegs ’n lening is wat die unie verder in die skuld kan laat beland.


Nog ’n onafhanklike direkteur – Raymond van Niekerk, ’n voormalige bemarkingsdirekteur van Investec – het sy kollegas se besluit om Van der Merwe en Van der Veen te pos, as “onverantwoordelik” en “waansinnig” bestempel.

Daar word verwag dat Van Niekerk vandeesweek uit die direksie sal bedank.

Intussen besin die WPRVU wie hy in Van der Veen se plek saam met Rasool as ’n onafhanklike direkteur gaan aanstel.

Hulle sal ook binnekort moet kyk na die aanstelling van ’n uitvoerende hoof nadat Paul Zacks in Januarie vanjaar bedank het.

Sedertdien word die unie se sake bedryf deur ’n komitee bestaande uit twee verteenwoordigers van die aandeelhouer van die maatskappy, sowel as twee onafhanklike direkteure van die maatskappy se direksie.
Aanmerking

WP Rugby se onafhank­like direksie voldoen tans nie aan die vereistes van SA Rugby se strategiese transformasie-plan nie.

Dit moet dus in aanmerking geneem word wanneer aanstellings gemaak word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters