Verlede maand
Willemse het rol
OOG OPPIE BAL: Damian­ Willemse vertolk môre ’n belangrike rol vir die Bokke.  ~ Gallo Images

DAMIAN Willemse, veelsydige jong agterspeler, het môre ’n belangrike rol om vir die Springbokke te vervul.

Hy sal dan die rol speel van veelsydige agterspeler in die Bokke se 6-2-samestelling van hul reserwebank.

Rassie Erasmus het dié strategie met groot sukses in 2019 se Wêreldbekertoernooi aangewend. Die enigste verskil is dat die veteraan Frans Steyn tóé die rol van veelsydige agterspeler gespeel het.

Diens

Willemse, ’n 23-jarige boorling van die Strand, het Steyn egter onlangs verbygesteek met stewige ver­tonings van die bank teen Georgië en twee weke gelede vir die SA A-span teen die Leeus.

Elton Jantjies is nou uit die 23-tal. Dit beteken die talentvolle Willemse sal nou losskakel, senter en heelagter van die bank dek.

As daar iets met die vleuels Cheslin Kolbe of Makazole Mapimpi in die wedstryd gebeur, sal Willemse óf daar aangewend word óf Willie le Roux (heelagter) sal na vleuel skuif.

Willemse sal in só ’n geval dan in die laaste vesting diens doen.

Willemse gee tans in sy loopbaan nie om watter rol die afrigters van hom verwag om te vertolk nie.

Hy het dié week aan die media gesê: “Ek’s nou al ’n paar jaar in die stelsel. So, ek’s gewoond aan die strukture en met my veelsydigheid speel ek 15, 10 en ’n bietjie op 12 omdat ek vertroud is met die manier waarop ons dinge doen.

“En om iemand soos Damian de Allende te hê om by te leer – dit help my baie.

“Om die afrigters te ondersteun wat my die vryheid gee om te gaan speel, veral in so ’n groot reeks, maak dit belangrik vir my om my kans te benut.”

Talle kenners meen die binnesenter-posisie is dalk waar sy heil vorentoe lê.

Hieroor sê hy: “Om 12 te speel, verskil nie veel van 10 nie. Dit gaan nie net daaroor om in die voorste linie te wees en skoppe na te jaag nie. Ek het op 12 Curriebeker- en klubvlak (franchise) gespeel, so dit het nie te veel verander nie.

“Ek is bevoorreg om ál dié verskillende rolle te vervul en ek geniet dit regtig.”

SPRINGBOKKE

Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Ma­pimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Jasper Wiese, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff.

BANK: Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Lood de Jager, Marco van Staden, Kwagga Smith, Herschel Jantjies, Damian Willemse.

BRITSE EN IERSE LEEUS

Stuart Hogg, Anthony Watson, Chris Harris, Robbie Henshaw, Duhan van der Merwe, Dan Biggar, Conor Murray, Jack Conan, Tom Curry, Courtney Lawes, Alun Wyn Jones (k), Maro Itoje, Tadhg Furlong, Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola.

BANK: Ken Owens, Rory Sutherland, Kyle Sinckler, Tadhg Beirne, Taulupe Faletau, Ali Price, Owen Farrell, Elliot Daly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters