11 dae gelede
Whitelock boost Saders
Sam Whitelock  ~ Gallo Images

SAM Whitelock was glad nie veronderstel om vanjaar by Superrugby betrokke te wees nie.

Whitelock (31) sluit hom egter môre aan by ’n elite-groep van Crusaders-spelers om sy 150ste wedstryd vir die span te speel.

Hy het toestemming gekry om Superrugby vanjaar mis te loop om in Japan te speel. Weens die coronavirus-pandemie het hy egter vroeër as beplan teruggekeer huis toe.

Fantasties

Whitelock is die sewende Crusader wat 150 Superrugby games vir die span gaan speel.

“Dit is fantasties,” het Whitelock gister aan TVNZ gesê. “Dis vir my ’n spesiale geleentheid om saam met my drie broers (Adam, George­ en Luke) te kan wees.

“Ons het moeilike tye beleef, maar dit was altyd aangenaam.”

Whitelock, wat tot dusver in 117 toetse vir die All Blacks uitgedraf het, sê hy sal sy trui van dié wedstryd opveil om geld in te samel vir ’n liefdadigheid wat boere ondersteun.

Die Crusaders kom te staan teen die Chiefs.

Dié het tot dusver sewe agtereenvolgende krag­metings in die Superrugby- en Nieu-Seelandse plaas­like Aotearoa-kompetisie verloor.

Die ses Superrugby Aotearoa-nederlae wat die Chiefs gely het, was egter met ’n gemiddelde van net vyf punte.

In drie van die games­ was Warren Gatland (afrigter) se span in ’n sterk posisie om in die doodsnikke te wen.

“Die Chiefs kon maklik hul laaste drie wedstryde gewen het,” het die Saders se hulpafrigter, Scott Hansen, aan verslaggewers in Christchurch gesê.

“Hierdie is ’n moeilike kompetisie – dalk die moeilikste in die wêreld – en dit is goed.

Lei

“Ons het ’n begrip van die belangrikheid van hierdie naweek. Ons weet waarheen ons op pad is,” het hy gesê.

Die Crusaders lei die kompetisie met 19 punte. Hulle is twee punte voor die Auckland Blues en drie voor die Hurricanes.

’n Oorwinning in Hamilton beteken dat hulle een hand op die trofee sal hê.

Die Highlanders speel Sondag teen die Blues.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters