12 dae gelede
White gou by Bulle
Jake White  ~ Gallo Images

DIS feitlik ’n uitgemaakte saak dat Jake White eersdaags as die Bulle se direkteur van rugby aangestel sal word.

Netwerk24 berig dat die 56-jarige voormalige Bok-afrigter eintlik reeds aan die werk gespring het en besig is om spelers vir die Bulle te werf.

Alfons Meyer, die Bulle se uitvoerende hoof, kon egter nie bevestig of White met spelers en hulle agente praat nie.

“Wat ek wel kan bevestig, is dat ons voor einde Maart ’n aankondiging sal doen. Was dit nie vir die ontwrigting (wat die corona-virus bring) nie, sou ons dit waarskynlik al gedoen het.”

White het maar min in Suid-Afrika afgerig nadat hy die Wêreldbeker-toernooi in 2007 met die Bokke gewen het.

Hy was lank by die Internasionale Rugbyraad (IRB), nou World Rugby, betrokke en het daarna by die Brumbies in Australië afgerig voordat hy in 2013 en 2014 die Sharks se direkteur van rugby was.

Draai

Sy outokratiese benadering het egter nie die spelers beïndruk nie en hulle het gekla dat hulle “soos skoolseuns” behandel is.

White is daarna vort na Tonga voordat hy Frankryk toe is om Montpellier te brei. Daarna het hy ’n draai gemaak in Japan, waar hy die Japanse Topliga met Verblitz gewen het.

Die slotte Jason Jenkins en Gerbrandt Grobler is glo in White se visier, terwyl Duane Vermeulen reeds aangedui het hy keer terug Loftus Versfeld toe nadat hy verlede jaar groot impak in Pretoria gemaak het.

Die Bulle vry ook glo hard na die Springbok-senter Jesse Kriel om ook terug te keer na Loftus.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters