2 maande gelede
Wenkbroue lig oor ‘moeë Bongi’
Bongi Mbonambi
Bongi Mbonambi  ~ getty images

RASSIE Erasmus se besluit om die Springbok-haker Bongi Mbonambi kort voor die rustyd teen die Wallabies te vervang, het glo niks met ’n wilde lynstaan- ingooi te doen gehad nie.

Die Wallabies het die Bokke met 23-18 in ’n Rugby Championship-toets in Brisbane in Australië geklop.

Volgens Erasmus, Springbok-afrigter, was Mbonambi moeg. En dis hoekom hy hom van die veld afgehaal en met Malcolm Marx vervang het.

Die 27-jarige Mbonambi het die Bokke se eerste drie van die toets gedruk, maar is ná net 30 minute van die veld gehaal.

Erasmus se besluit het die wenkbroue laat lig, veral nadat Mbonambi se lang lynstaan-ingooi tot ’n drie vir die Wallabies se Matt Toomua gelei het.

Vyf meter van jou doellyn gooi jy eerder die bal voor in die lynstaan om seker te maak jou span wen die bal.

’n Mens wonder dus wie daardie uiters dom keuse gemaak het.

Al het Erasmus al voorheen Mbonambi as een van die fiksste spelers in die Bok-span beskryf, het die Bok-breier gesê hy het nie Mbonambi vir die blaps afgehaal nie, maar eerder omdat hy met sy fiksheid gesukkel het.

“Bongi het nie baie gespeel nie en ek kon sien hy het gesukkel.

Leeg

“Jy kan die manne vra. Hulle weet almal speel so lank as wat hulle kan. Die oomblik wanneer jy begin sukkel, kom die sub op. Ek het my kaptein (Siya Kolisi) ’n paar keer in die Junie se toetse ook gesub,” het Erasmus verduidelik.

“Ons sê vir die manne om hulle tenk leeg te speel om te sien hoe ver hulle kan gaan. Ons bring dan die man van die bank op en hy sal probeer om die match te voltooi.

“Die oorgooi was meer van ’n kommunikasieprobleem tussen Siya en van die ander spelers.

“Dis beslis nie Bongi se fout nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters