11 dae gelede
‘Wen is al wat tel’
VOORBOK: Siya Kolisi lei Saterdagaand die Stormers op Nuweland.  ~ Gallo Images

DIE Stormers gaan alles in die stryd werp om SA Rugby se Superrugby Unlocked-reeks te wen.

Hul kaptein, Siya Kolisi, is gefrustreerd met die feit dat hy in sy 10 jaar in die Kaap nog nie ’n Super­rugby-reeks gewen het nie.

Die Stormers kom Saterdagaand op Nuweland teen die Lions te staan.

John Dobson, afrigter van die Stormers, en Kolisi het die media gister in ’n virtuele mediakonferensie te woord gestaan.

Die Bok-kaptein was passievol toe hy oor sy span gepraat het.

“Soms sal dinge in wedstryde nie na ons kant toe gaan nie, maar ons sal steeds dieselfde missie hê.

“Dit is om ons bes te doen om hierdie kompetisie te wen. Nie net vir ons nie, maar vir alles wat ons in hierdie stadion deurgemaak het en die mense wat voor ons hier gespeel het en die Nuweland-getroues.

“Ons het ons ondersteuners nog elke jaar in die steek gelaat, veral in Superrugby. Ons praat openlik daaroor, want jy kan nie daarvan wegkruip nie.

“Dit is ’n feit. Ons moet iets daaraan doen en dit regstel,” het Kolisi gesê.

Hy het bygevoeg: ‘Hoeveel ouens het ons in die Showdown-week (die Groen-en-Goud-wedstryd) gehad? Ons het g’n verskonings meer nie.

“Dit gaan daaroor om seker te maak dat ons met ons ingesteldheid almal hier is om te wen, ongeag wat van die veld af gebeur. Ons gaan fokus op wat ons óp die veld kan doen. Dit is al wat ons as spelers kan beheer.

“Hopelik, wanneer die stadion oopgaan, kom mense in en dit is wat hulle sien: Ons wen wedstryde.

“Dit maak nie saak of dit goeie rugby is of nie. Of ons wen – dis ál waaroor ons nou omgee.”

Ingesluit

Die span spog met sewe lede van die Springbokspan wat verlede jaar die Wêreldbeker gewen het.

Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Frans Malherbe, Kolisi, Herschel Jantjies, Damian Willemse en Warrick Gelant is almal by die beginspan ingesluit. Scarra Ntubeni is op die plaasvervangerbank.

Sergeal Petersen maak sy terugkeer ná ’n besering. Hy vervang Seabelo Sena­tla, wat sy dyspier beseer het in die Super Fan Saturday-wedstryd teen die Lions.

Stormers: Warrick Gelant, Sergeal Petersen, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Leolin Zas, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. BANK: Scarra Ntubeni, Leon Lyons, Neethling Fouché, Chris van Zyl, Nama Xaba, Paul de Wet, Michal Haznar, Tim Swiel.

Lions: EW Viljoen, Jamba Ulengo, Burger Odendaal, Dan Kriel, Rabz Maxwane, Elton Jantjies (k), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Willem Alberts, Carlü Sadie, Jaco Visagie, Sti Sithole. BANK: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Wiehahn Herbst, Wilhelm van der Sluys, MJ Pelser, Hacjivah Dayimani, Ross Cronjé, Gianni Lombard, Wandisile Simelane, Ruan Dreyer­.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge

Assistent-skeidsregters: Egon Seconds, Aimee Barrett-Theron

Televisiewedstrydbeampte: Joey Klaaste-Salmans.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters