2 maande gelede
Wayde wys wie is baas
JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MARCH 30: Wayde van N
Wayde van Niekerk  ~ Gallo Images

WAYDE van Niekerk het Dinsdag gewys hy is op koers om vinnig weer sy beste peil te bereik.

Dit was Van Niekerk se beste vertoning sedert sy terugkeer van die verskriklike kniebesering wat hy in 2017 opgedoen het.

Die 28-jarige wêreldrekordhouer in die 400 m-naelloop het koning gekraai in die 200 m-naelloop vir mans. Dit was op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Athletix Uitnodiging-byeenkoms in die Ruimsig-stadion in Roodepoort.

Hy het hakskene gewys vir sy landgenoot en die SA rekorhouer in die 100 m, Akani Simbine.

Van Niekerk het die 200 m in ’n puik 20,10 sek. in nat toestande afgeblits.

Simbine (20,29 sek.) was tweede met Tsebo Matsoso (20,48 sek.) in die derde plek.

Anaso Jobodwana het teleurgestel deur die sesde plek in 20,74 sek. te behaal.

Van Niekerk se tyd was die tweede vinnigste 200 m-tyd in die wêreld in 2021. Sy persoonlike beste tyd oor hierdie afstand is19,84.

Dié boorling van Kraaifontein beoog om in Augustus sy 400 m-titel suksesvol by die Olimpiese Spele in Tokio te verdedig.

In 2016 by die Spele in Rio de Janeiro het hy die goue medalje in die 400 m in 43,03 op skoupelagtige wyse gewen en so die legendariese Michael Johnson se rekord verpletter.

Van Niekerk spog met ’n persoonlike beste tyd in die 100 m van 9,94. Benewens sy wêreldrekord in die 400 m, is hy ook die vinnigste man tot nog toe oor 300 m met ’n wêreld- beste tyd van 30,81, wat hy in 2017 opgestel het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters