13 dae gelede
Wayde wen in Switserland
Wayde van Niekerk sal waarskynlik eers in September sy internasionale terugkeer maak, nadat hy die afgelope twee weke in selfisolasie moes deurbring. Foto: Getty Images  ~ 

WAYDE van Niekerk is terug.

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese kampioen het Dinsdagaand uiteindelik ‘n suksesvolle terugkeer na die atletiekbaan gemaak.

Van Niekerk het in die 400 m op die Gala dei Castelli-byeenkoms in Switserland koning gekraai.

Die 28-jarige boorling van Kraaifontein het stadig uit die blokke in baan 4 weggespring. Met 100m oor was hy nog in die 5de plek. Hy het egter met ‘n sterk eindpoging vorendag gekom om die wedloop in 45.58 sekondes te wen.

Dit was Van Niekerk se eerste byeeenkoms in die buiteland sedert die World Champs in 2017 in Londen, toe hy sy tweede 400 m-wêreldtitel verower het.

Hy het daarna ‘n ernstige kniebesering in ‘n raakrugby game op Nuweland opgedoen, wat hom baie lank buite aksie gehou het.

Van Niekerk het in Februarie vanjaar in die 100m op 'n grasbaan in Bloemfontein ’n comeback gemaak. Hy het die 100m gewen, maar kon weens die wêreldwye coronavirus-pandemie nie weer vanjaar deelneem nie.

‘n Beplande internasionale terugkeer in Augustus in Italië is egter ontwrig toe hy positief vir die coronavirus getoets het. 

Hy sal nou terugkeer na Suid-Afrika om al sy aandag toe te spits om sy titel in die 400m by volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio suksesvol te verdedig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters