Verlede maand
Wayde toets positief vir Covid-19
LONDON, ENGLAND - AUGUST 06:  Wayde van Niekerk of
TERUGSLAG: Wayde van Niekerk se positiewe toets vir Covid-19 beteken hy moet nou langer wag voor hy tot mededingende atletiek kan terugkeer.  ~ Getty Images

WAYDE van Niekerk het positief getoets vir die coronavirus.

Vogens die Italiaanse koerant La Gazzetta dello Sport het die Suid-Afrikaanse 400m-wêreldrekordhouer glo positief vir Covid-19 getoets.

Die 28-jarige is tans in kwarantyn in Gemona del Friuli in Italië waar hy vir sy oefenkamp vir die Europese seisoen gesetel is.

Van Niekerk het op 19 Julie in Italië aangekom en sou Saterdag (vandag) aan die Triveneto-byeenkoms in die Grezar-stadion in Trieste aan die 100- en 400 m deelgeneem het.

Dit is ’n groot terugslag vir die boorling van Kraaifontein nadat hy in Oktober 2017 ’n ernstige kniebesering opgedoen het in ’n raakrugby-wedstryd vir celebrities in die Nuweland-stadion in die Moederstad.

Van Niekerk het in 2016 goud by die Olimpiese Spele in Rio gewen. Hy het van baan agt in die 400 m-eindstryd gehardloop en ’n wêreldrekordtyd van 43.03 sekondes opgestel.

Van Niekerk sou vanaand op die byeenkoms in Trieste in sy eerste wedloop sedert sy besering in die buiteland in aksie gewees het.

Hy het beplan om 18:05 SA tyd aan die 100m-uitdunne en dalk om 19:35 aan die 100m-eindronde deelgeneem het. Daarna sou hy om19:55 vir die 400m aangetree het.

Dit sou onrealisties gewees het om enige aardskuddende tye Van Niekerk te verwag het, maar dit sou wel sy eerste groot tree gewees het om sy Olimpiese kroon by die Tokio-Spele in 2021 te verdedig.

Sy landgenote Antonio Alkana gaan vanaand om 18:50 in die 110m-hekkies en Ruswahl Samaai in vir die verspring vir mans om 19:25 aantree.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters