Verlede maand
Wayde tevrede met vertoning
Wayde van Niekerk  ~ Gallo Images

WAYDE van Niekerk is vol selfvertroue nadat hy Dinsdag met ’n puik vertoning in die 200 m-naelloop op die ASA Athletix-uitnodiging-byeenkoms in die Ruimsig-atletiekstadion in Roodepoort vorendag gekom het.

Van Niekerk het die wedloop in 20,10 sekondes in nat en winderige toestande afgeblits. In die proses het hy die nasionale 100 m- rekord­houer, Akani Simbine (20,29 sek.), ore aangesit. Tsebo Matsoso (20,48 sek.) het derde geëindig.

“Ja, dit het my beslis die selfvertroue gegee wat ek nie voorheen gehad het nie en beslis nou nodig het,” het ’n verheugde Van Niekerk agterna gesê.

Die 28-jarige boorling van Kraaifontein is besig om sy terugkeer ná ’n ernstige kniebesering te maak.

Die wêreldrekordhouer in die 400 m het die besering in 2017 in ’n raakrugby-wedstryd op Nuweland opgedoen.

“Dit is een ding om goed te oefen, maar dit is ’n ander ding om dit uit te voer teen teenstanders van gehalte en teen ouens vir wie ek die wêreld se respek het.”

Reeks

Hoewel Van Niekerk Simbine goed geklop het, was hy nietemin ook tevrede met sy uitslag.

“Ek het net ’n terrible draai gehardloop, maar ek is steeds tevrede met my race,” sê Simbine.

Simbine het laas week die 100 m-naelloop in die eerste byeenkoms van die reeks in Ruimsig gewen.

“Dit was nóg ’n wonderlike kompetisiedag vir ons atlete, ondanks die reënbui wat aan die stertkant van die program uitgesak het,” het Aleck Skhosana, die president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), gesê.

“Ons is besonder gelukkig dat ons verskeie atlete in Suid-Afrika en uit ons buurlande die kans kon bied om kwalifisering te probeer kry of om hul prestasievlak te verbeter en te toets.

“Dit was ’n goeie terugkeer na atletiek vir ASA ondanks die uitdagings wat die corona-virus­ dwarsoor die land en die wêreld veroorsaak het.

“Dit is vir ons bemoedigend om te sien dat sommige atlete reeds op ’n gevorderde vlak van voorbereiding is,” voeg Skhosana by.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters