Verlede maand
Wayde SA se laaste hoop
Wayde van Niekerk  ~ Gallo Images

TOKIO. – Wayde van Niekerk is nou Suid-Afrika se laaste hoop op ’n medalje op die atletiekbaan.

En volgens dié Olimpiese gouemedalje-wenner kom sy beste nóg nadat hy sy veldtog om sy titel in die 400 m suksesvol te ver­dedig, met ’n uiters versigtige benadering afgeskop het.

Die 29-jarige boorling van Kaapstad het vyf jaar gelede die atletiekwêreld geskok toe hy die goue medalje in die 400 m op skouspelagtige wyse op die Spele in Rio de Janeiro gewen het.

Daar het hy die wêreld­rekord van die legendariese Amerikaner Michael John­son verpletter en ’n nuwe tyd van 43,03 sekondes opgestel.

In 2017 het Van Niekerk ’n ernstige knie­besering opgedoen wat hom baie lank buite aksie gehou het. Sedertdien is hy in ’n wedloop teen die tyd gewikkel om van die besering te herstel.

Die wêreldrekordhouer het gister hier op die baan in die Olimpiese Stadion in een van die ses uit­dunne in die 400 m met ’n nuwe haarstyl uitgestap.

Dit was duidelik dat dit sy doelwit was om net vir die halfeindrondes te kwalifiseer.

Hy het derde in 45,25 sek. geëindig om sy plek in vandag se halfeindronde te verseker.

Dit was net die 12de vinnigste tyd van die dag.

Van Niekerk het toegegee dat hy voor die wedloop ’n bietjie senuweeagtig was, maar hy is gelukkig daaroor dat hy gemaklik deurgedring het.

Hy het agterna gesê: “Ja, ek sal nie sê dat dit moeilik was nie. Ek het redelik sterk uitgegaan en baie gemaklik gevoel.

“Dalk het ek ’n bietjie te gou afgeskakel, maar die werk was toe reeds gedoen.”

Van Niekerk moes hom in Julie van sy laaste geskeduleerde wedloop in Hongarye onttrek omdat hy met ’n rug­besering gesukkel het.

Hy is egter vol vertroue dat sy beserings nou iets van die verlede is.

“Die liggaam voel goed en ek is positief. Ek voel baie gelukkig en gemaklik met hoe dinge op die oomblik lyk.

“Die doelwit was om eerste of tweede (in die uitdun) oor die eindstreep te kom. Ek het duidelik ’n bietjie kortgekom, maar het nietemin deurgedring. Daar is nou ’n job wat môre (vandag) op my wag.

“Ek het nie te hard gedruk nie. Dit beteken dat ek ’n bietjie ekstra oor het, maar ons sal dit dag vir dag vat.”

Gisteroggend se uitdunne is in skroeiende hitte genael, maar volgens Van Niekerk is dit dieselfde vir almal

Ontspan

“Dit is nie asof die hitte net in my baan is nie. Dit is ’n uitdaging vir almal. Ek sien dit as iets positiefs.

“Ek hou egter van die hitte. Dit ontspan my liggaam nogal, so ek vat dit maar soos dit kom.”

Die halfeindrondes vind vandag van 13:05 SA tyd plaas, terwyl die eindronde vir Donderdag geskeduleer is.

Van Niekerk se landgenote Zakithi Nene (45,75) en Thapelo Phora (45,83) het nie na die halfeind deurgedring nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters