Verlede maand
Wayde is op koers
Wayde van NiekerKFoto: GALLO IMAGES  ~ 

WAYDE van Niekerk het Saterdagaand gewys hy is op koers vir die Olimpiese Spele in Tokio.

Van Niekerk is as die Suid-Afrikaanse kampioen aangewys toe hy goud in die 200 m op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se atletiekbyeenkoms in Pretoria gewen het.

Hy het nie aan die 400 m deelgeneem nie.

Die 28-jarige Olimpiese kampioen het die 200 m verspotmaklik in 20,38 sek. afgeblits.

Die 17-jarige Benjamin Rich­ardson (Tuks) het beïndruk deur tweede te eindig in ’n tyd van 20,77.

Dis die eerste keer dat hy aan ’n senior SA kampioenskapsbyeenkoms deelneem.

Tuks se Nicholas Ferns was derde in 20,83.

Volgens Van Niekerk was sy doelwit nie om ’n vinnige tyd te hardloop nie.

Hy het agterna gesê: “Ek het nie aan ’n vinnige tyd gedink nie. Ek wou net wen om te voel waaroor die oorwinning gaan.

“Daar is nog baie waarop ek kan verbeter. Om eerlik te wees, is ek nog nie heeltemal geestelik en fisiek waar ek graag wil wees nie.

“Ek moet net probeer om voortaan meer bestendig te wees.”

Van Niekerk se voorsprong was só groot dat hy eintlik aan die einde van die naelloop ’n bietjie teruggehou het.

Die wêreldrekordhouer in die 400 m gaan nou reis na Amerika, waar hy saam met die 200 m-wêreldkampioen, Noah Lyles, voor die Europese seisoen gaan oefen.

Ruswahl Samaai het in die verspring vir mans gewys hy is steeds die beste in die land. Die Paarliet het seker gemaak van die goue medalje met ’n allemintige sprong van 8,16 m.

Die Boland-ster het die aanslag van jongelinge soos Jovan van Vuuren en Divan Manuel afgeweer.

Samaai het sy staal gewys en gaan ook nou na Europa reis om sy voorbereiding vir die Spele daar voort te sit.

In die gewigstoot vir mans het Kyle Blignaut sy eerste SA titel met ’n afstand van 20,82 m gewen.

Louere

In die hoogspring vir mans was die voormalige junior wêreldkampioen Breyton Poole van Boland en Mpho Links van Sentraal-Noordwes in ’n hewige stryd gewikkel.

Poole en Links het met dieselfde hoogte van 2,15 m geslaag.

Links het egter met die louere weggestap aangesien hy die hoogte in minder as drie pogings oorgesteek het.

Die blitse Akani Simbine (9,99) en Reabetswe Moloi (11,55) is Vrydag as die SA mans- en vrouekampioen in die 100 m gekroon.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters