3 maande gelede
Wayde haal uit in 60m
Wayde Van Niekerk  ~ Gallo Images

WAYDE van Niekerk se comeback is op koers.

’n Tipiese donderstorm op die hoëveld het Dinsdag Van Niekerk se voorbereiding vir volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio so effe van stryk gebring.

Die wêreldrekordhouer in die 400 m-naelloop het beplan om in Potchefstroom se NWU McArthur-stadion aan die 60 m en 150 m deel te neem.

Dit was die eerste keer dat Van Niekerk vir die 60 m aangetree het en hy het dit in net 6,62 sekondes voltooi.

Sy tyd was selfs naby aan die Suid-Afrikaanse rekord van 6,48 sekondes, wat deur Morné Nagel opgestel is.

Van Niekerk was stadig uit die blokke in baan 4.

Ruan Potgieter en Theo­dore Young het uit die blokke gevlieg. Van Niekerk moes dus hard werk om hulle verby te steek. Tsebo Matsoso was tweede, met Young in die derde plek.

Gewag

Van Niekerk se planne vir die 150 m is in die wiele gery toe ’n woeste donderstorm net ná 18:00 chaos in die Noordwes-stad veroorsaak het. Dit was net enkele minute voordat Van Niekerk aan die 150 m sou deelneem.

Organiseerders het sowat 40 minute gewag voordat hulle uiteindelik besluit het om eerder die byeenkoms af te gelas, aangesien dit net non-stop gereën het.

Peet van Zyl, Van Niekerk se agent, het gister aan Son bevestig dat die organiseerders genoop was om die byeenkoms weens die gure weersomstandighede te staak.

“Dit sou great gewees het as Wayde hom in die 150 m ook kon toets, maar die atlete se veiligheid kom altyd eerste,” het Van Zyl gesê.

“Die 60 m is ’n goeie toets vir Wayde, veral omdat dit nie net sy spoed uit die wegspringblokke opskerp nie, dit toets ook sy kniebesering tot die uiterste.

“Hy het nie so vinnig weggespring nie, maar het steeds gewys waarom hy ’n wêreldklas-atleet is. Hy het van agter oor ’n baie kort afstand gekom om steeds die wedloop te wen.”

Uithouvermoë

Volgens Van Zyl word Van Niekerk se program op so ’n manier bestuur dat hy op sy beste kan wees vir volgende jaar se Spele.

“Dit sou great gewees het om ook aan die 150 m te kon deelneem. Die idee was om sy spoed en sy uithouvermoë oor ongewone afstande te toets.

“Die plan is vir Wayde om volgende week aan die 300 m, weer in Potchefstroom, deel te neem.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters