3 maande gelede
Wayde gly, maar wen steeds
WENNER: Wayde van Niekerk
Wayde van Niekerk  ~ Foto Verskaf

WAYDE van Niekerk het Dinsdagaand sy terugkeer na Potchefstroom op omstrede wyse afgeskop.

Sy linkerwegspringblok het aan die begin van sy 400 m-wedloop per ongeluk losgekom.

Die blok het 'n paar meter agteruit gespring wat veroorsaak het dat die Olimpiese kampioen  gegly het.  

Van Niekerk moes dus met ‘n geweldige terugvegpoging vorendag kom om steeds die wedloop in 45.92 sek. te wen.

Die houer van die 43.03-wêreldrekord was nie so  bekommerd oor sy wegspring nie.

Hy het agterna gesê hy was nie tevrede met sy vertoning nie, maar baie nader aan waar hy wil wees. Hy is egter vol vertroue alles sal op die perfekte tyd bymekaarkom.

 “My bene het in the laaste 150 meter begin tam voel. Dit is vir my ’n aanduiding dat ek 'n bietjie werk het om te doen,” het hy gesê.

“Ek moet 'n paar wedlope in my bene kry, net om die senuwees en momentum weer in my gedagtes en my liggaam te kry, sodat ek voorbereid is vir volgende jaar.”

Die uitgestelde Tokio-spele is Van Niekerk se groot teiken. Hy moet nog vir die skouspel kwalifiseer deur vinniger as 44,90 sek. te hol. Die kwalifiserende venster open in Desember.

“Die SA seisoen is normaalweg iets wat ek as vanselfsprekend aanvaar. Hopelik kan ek meer uitdagings kry om my geestelik voor te berei.

"Dit is lekker om 'n paar wedlope in die bene te hê en die bene uit te daag om moeg te word,” het hy bygevoeg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters