5 dae gelede
Wat 'n riller!
skitterend op dreef: Leegan Moos op die aanval vir Evergreens. Foto’s:MARK WARD  ~ 

DIT was ’n wedstryd vol spanning, drama, hartseer en smiles.

Die smiles behoort aan die kant van die tuisspan.

Dít danksy ’n suksesvolle strafdoel deur die Evergreens-heelagter, Leegan Moos, in die doodsnikke van ’n opwindende wedstryd teen Barbarians.

Evergreens het die Baabaas met 23-22 geklop.

Moos het 10 punte met sy skopskoen aangeteken. Die tuisspan was met die rustyd met 10-9 voor.

Dié opwindende Premierliga-wedstryd van die Suidwestelike Distrikte is Saterdag op die Pacaltsdorp-sportterrein beslis.

Dit was van begin tot einde ’n spanningsvolle stryd wat lekker hardlooprugby opgelewer het.

Dit het egter in hartseer vir die besoekers van Mosselbaai geëindig.

Die Barbarians het met drie minute speeltyd oor die voortou geneem toe die linkervleuel, Waylon Anthony, ná goeie spel in die hoek gaan afrond het.

Die besoekers was toe met 22-20 voor en duidelik op pad na ’n oorwinning wat hulle in die wedloop om ’n plek in die semi’s sou hou.

Trane

Henn-Lin Botha, wat met vyf strafskoppe suksesvol was, was ook in die kol met die moeilike doelskop.

Botha is ’n baie goeie stelskopper en het sy span al talle kere uit die moeilikheid geskop.

Maar toe maak die toeskouers se gloeiende smiles in ’n oogwink plek vir trane en die besoekers se koppe sak toe Moos in die laaste minuut ’n strafskop oorklits.

Llewellyn Treurnicht, kaptein van Evergreens, vertel: “Dit was ’n baie taai stryd. Geluk aan my spelers, maar ons sal definitief na ons dissi­pline moet gaan kyk. Ons het gans te veel strafskoppe in die game afgestaan.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters