8 maande gelede
Warriors ruil hul rol om
goed vertoon: Tladi Bokako kan sy plek in die Warriors se span behou. Foto: theo jeptha  ~ 

DIE Warriors se krieketspan bevind hom in ’n baie ongewone posisie in die Sunfoil-reeks.

Nadat al die spanne ses wedstryde gespeel het, is die Warriors in die tweede plek op die puntelys.

Die laaste seisoene het die Warriors hul man in die korter weergawes van die spel gestaan, maar in die meerdaagse reeks gesukkel.

Om nou onder die pasaangeërs in die meerdaagse reeks te wees, is vir die Oos-Kapenaars ’n riem onder die hart. Die Warriors was die naweek die enigste span wat in die drie wedstryde ’n oorwinning behaal het.

Die Warriors het die Lions op Buffalo Park in Oos-Londen met 29 lopies geklop.

Net die Titans en die Warriors kan met ’n oorwinning elk spog nadat ses rondes voltooi is.

Die Titans is in die eerste plek met 92,10 punte en die Warriors tweede met 86,70.

Die afrigter, Ravish Gobind, weet sake is nog wyd oop in die reeks. Daarom wil die Warriors die tuisveldvoordeel in hul volgende wedstryd benut. Hulle speel van Donderdag af teen die Dolphins op St. Georgepark in Port Elizabeth.

Die Warriors wil nie graag torring aan die span wat die Lions geklop het nie, maar beserings speel ’n rol.

Die aanvangskolwer Eddie Moore was siekerig in Oos-Londen, maar behoort teen die Dolphins te speel.

As hy nie kan speel nie, sal ’n bietjie kopgekrap word. Daar kan van die ander kolwers opgeskuif word om die beurt te begin, of aanvangskolwers soos David White, Gionne Koopman en Matthew Breetske, wat in die seisoen al ingespan is, kan teruggeroep word.

Sisanda Magala kon weens ’n beseerde spier in sy linkersy nie teen die Lions speel nie. As hy fiks is, sal dié naatbouler sterk oorweeg moet word.

Anrich Nortjé, Tladi Bokako en Aya Gqamane het die naataanval teen die Lions gevorm en het almal hul deel gedoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters